Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
2 500 valke vrek in haelbui

Sowat 2 500 rooipootvalke het gevrek in hewige haelbuie wat Newcastle Donderdag getref het. Vrywilligers van Birdlife kon omtrent 800 van die valke red.

Honderde rooipootvalke is gered nadat ’n kwaai donderstorm en haelbuie Donderdag in Newcastle, KwaZulu-Natal, gewoed het.

Sylva Francis, ’n lid van Birdlife, sê haelstene so groot soos tennisballe het omstreeks 21:00 verwoesting gesaai.

Sowat 10 000 rooipootvalke bly in Newcastle se omgewing en migreer in die herfs na Rusland.

“Toe ek die hael op die dak hoor was ek onmiddellik bekommerd oor die valkies.”

Sy en ander vrywilligers het na die plek gery waar die valke gewoonlik voorkom.

“Ons het gesien daar is groot drama. Daar was baie valke op die grond en hulle was koud en nat. Baie van hulle was reeds dood.”

Sy het die DBV en ander vrywilligers ontbied waarna hulle die lewende valke opgetel het en in motors na Francis se huis vervoer het.

“Ons het hulle in die motorhuis gesit en ’n verwarmer aangeskakel sodat hulle warm en droog kon word. Daar was nagenoeg ’n duisend valkies in die motorhuis.”

Die volgende oggend het ander rehabilitasiesentrums, onder meer FreeMe Wildlife van Howick en die Roofvoël-rehabilitasiesentrum van Pietermaritzburg, ingespring om sommige van die valke te versorg.

Sedertdien is 760 gesonde valke vrygelaat.

Wade Whitehead van die FreeMe-wildrehabilitasiesentrum sê hulle het 33 valke vrygelaat, maar sowat 30 sal vir die winter by die sentrum moet bly omdat hulle nog nie sterk genoeg is om vrygelaat te word nie.

Toe ek die hael op die dak hoor was ek onmiddellik bekommerd oor die valkies.
Sylva Francis van Birdlife

Francis sê dit is beslis die grootste voorval sedert die 1990’s waarin rooipootvalke in die Newcastle-omgewing gevrek het.

“Ons het geskat dat meer as 10 000 rooipootvalke hier slaap. Die 2 500 van hulle wat gevrek het, is ’n groot hap uit hul plaaslike bevolking.”

Dié valk is die kleinste roofvoël met die langste trekroete. In die somer woon rooipootvalke in sekere dele van Suid-Afrika en hulle vlieg voor die winter na Rusland waar hulle in die noordelike halfrond se somer broei. Dié reis is sowat 14 000 km ver.

David Allan, ’n voëlkundige verbonde aan die Durbanse Museum, sê van die karkasse van die valke word aan die Universiteit van KwaZulu-Natal geskenk.

Dit sal onder meer gebruik word vir studies oor voëlgriep en bevolkingsgenetika.

“Daar is ook ’n studie waarin die voëls se vere gebruik word om te bepaal waar hulle vandaan kom.”

Allan sê hoewel die vrektes van die valke tragies is, moet die geleentheid gebruik word om op ’n wetenskaplike wyse soveel moontlik daaruit te leer.

“Dit gebeur bitter min dat ons duisende karkasse van voëls kan gebruik vir wetenskaplike doeleindes.”

Hy sê ander akademici wat belangstel in die karkasse kan hom kontak by david.allan@durban.gov.za.

Sowat 2 500 rooipootvalke het in die haelbuie gevrek.
Haelstene so groot soos tennisballe het onder die valke gemaai.
Sylva Francis van Birdlife
Meer oor:  Valke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.