Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
2 jagluiperds met feesmaal in Rietvlei verwelkom
Die jagluiperds Njozi en Joe het heerlik aan ’n swartwildebees gesmul nadat hulle uit die boma by Rietvlei gelok is. Foto: Deaan Vivier

Nadat hulle as deel van ’n “lokval” drie dae lank uitgehonger is, is ’n feesmaal vir die twee nuwe inwoners van die Rietvlei-natuurreservaat in Pretoria opgedis.

Die jagluiperdwyfie Njozi en die mannetjie, wat informeel Joe genoem word, is Maandag met ’n karkas van ’n swartwildebees uit die boma gelok waar hulle sowat ’n maand lank gehuisves is.

Die karkas is stadig agter ’n bakkie aangesleep en die twee spoedkatte was aanvanklik wantrouig oor dié vreemde peuselhappie, maar Joe se aptyt het gou die oorhand gekry. Njozi het haar ’n rukkie later by hom aangesluit.

Hulle kan nou oral in Rietvlei rondbeweeg.

Dit vorm deel van die Trust vir Bedreigde Spesies (EWT) se jagluiperd-uitbreidingsprojek wat die katte hervestig om inteling te voorkom en te verseker die spesie is nie oor- of onderbevolk in ’n gebied nie.

“Ons het hulle doelbewus uitgehonger, so ons het geweet hulle gaan baie honger wees. Die truuk was net om die hek agter hulle toe te maak wanneer hulle uit die boma is,” sê Vincent van der Merwe, koördineerder van die EWT se eenheid vir jagluiperd-metabevolkings.

Die jagluiperds se hervestiging is deel van die Trust vir Bedreigde Spesies se jagluiperd-uitbreidingsprojek. Foto: Deaan Vivier

“Hulle sal hopelik nou die res van hul lewe vrylopende jagluiperds wees.”

Njozi kom van die Garden Route Game Lodge in die Wes-Kaap en is op 27 Augustus in die boma in Rietvlei gevestig. Joe is van die Welgevonden-natuurreservaat in Limpopo en het hom kort daarna by haar aangesluit. Albei is sowat 19 maande oud.

Hulle is in die boma aangehou om hul “tuis-instink” te breek, wat wilde katte laat terugloop na hul oorspronklike gebied wanneer hulle hervestig word.

Omdat Joe nie permanent by Rietvlei aanbly nie, het hy nog nie ’n amptelike naam nie.

“Hy gaan na Mosambiek verskuif word. Die wyfie sal hier bly en hopelik ’n groot nageslag lewer wanneer ons vroeg in volgende jaar twee ander mannetjies na Rietvlei bring,” sê Van der Merwe.

Oortollige wild van die Modderfontein-natuurreservaat is onlangs na Rietvlei verskuif en sal aangevul word soos nodig.

Njozi was aanvanklik skepties, maar het gou saam met Joe aan die karkas gevreet. Foto: Deaan Vivier

“ ’n Reservaat soos Rietvlei het net genoeg prooi vir een volwasse jagluiperdwyfie en dalk twee mannetjies. Hulle help ook om te verseker dat die prooigetalle nie die kapasiteit oorskry nie.”

Die reservaat beslaan 4 000 ha en het nie ander roofdiere wat met die jagluiperds sal meeding nie.

Die jagluiperd is ’n bedreigde spesie en volgens Van der Merwe is daar sowat 7 000 van dié kolkatte in Afrika oor, waarvan 1 200 in Suid-Afrika.

Hy sê Suid-Afrika se omheinde reservate help om die spesie te beskerm.

“Dit verhoed mense om dié gebiede binne te kom en strikke te stel en keer die jagluiperds om in gebiede te beweeg waar vee soos beeste en skape wei, wat daartoe lei dat boere vergeldend optree en vir hulle strikke stel of gif uitsit.”

Adelene Marais van die Tshwane-metroraad sê jagluiperds is ’n groot toeristeaantreklikheid en hulle kan duidelik sien hoe Rietvlei se besoekersgetalle styg wanneer daar katte in die reservaat is.

Besoekers sal nou die jagluiperds in die Rietvlei-natuurreservaat kan sien. Foto: Deaan Vivier
Ná drie dae was die swartwildebees ’n welkome maaltyd. Foto: Deaan Vivier
’n Laaste maaltyd voor die jagluiperds vir hulle eie kos gaan moet jag. Foto: Deaan Vivier

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.