Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
2 jong weesrenosters in natuur vrygelaat
Gertjie die renosterwesie saam met Lammie sy “aanneemma” by die sentrum vir bedreigde spesies in Hoedspruit in Limpopo. Foto: HESC

Vyf jaar nadat twee renosterwesies deur die Hoedspruit-sentrum vir bedreigde spesies in Limpopo gered is nadat hul ma’s deur stropers vir hul horings doodgemaak is, is hulle vrygelaat om op hul eie in die natuur te leef.

Dit was ’n emosionele dag toe Gertjie en Matimba onlangs by die hekke van die sentrum uitgestap het. Dit is die eerste keer ooit dat renosterwesies suksesvol by dié sentrum gerehabiliteer en daarna vrygelaat is.

Janelle Genis, ’n veeartsassistent van ProVet-wilddienste, wat in 2014 veral by Gertjie se redding betrokke was, sê dit was ’n ongelooflike ervaring om te sien hoe hulle wegstap in die veld.

“Ná alles wat hulle deur is die afgelope vyf jaar, maak dit alles die moeite werd om hulle saam, maar vry in die natuur te sien,” sê Genis.

Lente Roode, stigter en eienaar van die Hoedspruit-sentrum vir bedreigde spesies, in die veld waar Matimba en Gertjie, twee renosterwesies, na vyf jaar van rehabilitasie vrygelaat is. Foto: HESC

Netwerk24 het berig oor Gertjie wat in Mei 2014 nie van sy ma se gestroopte karkas wou weggaan nie. “Dit het geklink of hy huil,” het een van die mense wat op hom afgekom het, gesê.

Gertjie of “Little G” soos die Hoedspruit-sentrum se personeel na hom verwys, se hartseer verhaal is selfs op Good Morning America op die ABC-TV-kanaal uitgesaai. Verskeie Britse koerante het ook oor hom berig. Gertjie het later ’n skaap, Lammie, gekry om sy maatjie te wees. Lammie het ook die rol van surrogaatma vir Gertjie en Matimba vervul.

Lente Roode, stigter en eienaar van die Hoedspruit-sentrum, sê Matimba was slegs ’n maand oud toe hy ’n paar maande ná Gertjie gered is. “Ek is so gelukkig dat Gertjie en Matimba vrygelaat is. Dit was oorweldigend om dit te kon meemaak,” het Roode gesê.

Gertjie en Matimba is met bottels spesiale formulemelk grootgemaak en moes aan die begin elke drie ure gevoer word. Werkers by die sentrum het langs hulle geslaap. Toe hulle 18 maande oud word, het hulle gras en lusern begin vreet.

Karen Swiegers, bestuurder by die sentrum, sê daar is min bestaande riglyne oor wanneer die beste ouderdom is om renosters in die natuur vry te laat. “Ons het ter voorbereiding van die vrylating die kontak wat hulle met mense gehad het, verminder.”

Om hulle teen stropers te beskerm wou die sentrum nie sê waar Gertjie en Matimba vrygelaat is nie.
Gertjie en Matimba, twee renosterwesies wat die afgelope vyf jaar by die Hoedspruit-eenheid vir bedreigde spesies in Limpopo versorg is, is in die natuur vrygelaat. Foto: HESC

’n Veearts is geraadpleeg en daar is besluit dat vyf jaar ’n goeie ouderdom is om hulle vry te laat. “Hulle is nou oud genoeg om hulleself te beskerm,” sê Swiegers.

Om hulle teen stropers te beskerm wou die sentrum nie sê waar Gertjie en Matimba vrygelaat is nie. “Ons het al gaan kyk en dit gaan baie goed met hulle. Daar is ’n baie nou band tussen die twee renosterbulle.”

Linri Janse van Rensburg, die sentrum se hoofkurator, sê die band tussen Gertjie en Matimba was van kleins af spontaan en “hulle is soos broers. Die een is nooit sonder die ander nie. Matimba is beskermend en aggressief terwyl Gertjie rustiger is en ’n kalmerende effek op Matimba het.”

’n Teenstropingseenheid beskerm Gertjie en Matimba en daar is ook elektriese omheining waar hulle vrygelaat is.

“Renosters word deur mense uitgewis. Die diere is ’n ikoniese spesie en ons moet alles in ons vermoë doen om hulle te red,” sê Genis.

Meer oor:  Hoedspruit  |  Renosters
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.