Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
2020 se Januarie die warmste nóg

Verlede maand was die warmste Januarie tot nog toe met hoër gemiddelde temperature op land- en seeoppervlakke as wat alle data van die afgelope 141 jaar toon wat deur Amerika se National Oceanic and Atmospheric Administration (NOAA) gehou word.

Temperature van bo 20 °C is in Februarie vir die eerste keer op Antarktika gemeet.

Die rekordtemperature in Januarie volg op ’n besonder warm 2019 – die tweede warmste jaar sedert betroubare inligting opgeteken is.

Die afgelope vyf jaar en die vorige dekade is die warmste in die 150 jaar sedert dié inligting opteken word – ’n aanduiding van klimaatsverandering en ’n naderende krisis.

Ongewone warm weer is in Rusland, Skandinawië en Oos-Kanada ervaar waar temperature sowat 5 °C bo die gemiddelde was en by tye selfs hoër.

Op die dorpie Örebro in Swede het die temperatuur 10,3 °C gehaal, die hoogste temperatuur wat tot dusver in Januarie gemeet is.

In Antarktika het Februarie begin met “ongelooflike en abnormale” temperature, sê wetenskaplikes. Vir die eerste keer in sy geskiedenis was dit hoër as 20 °C op 9 Februarie, kort op die hakke van die vorige rekord van 18,3 °C wat net drie dae tevore aangeteken is.

’n Ysberg in Antarktika.Foto: Reuters

Volgens NOAA was die vier warmste Januarie-maande op rekord almal sedert 2016, terwyl die tien warmste Januaries almal sedert 2002 was.

Die wêreld se regerings het in 2015 ooreengekom om aardverwarming onder 2 °C te hou ten einde vloede, voedselonsekerheid, hittegolwe en grootskaalse ontheemding weens klimaatsverandering te voorkom.

Dit lyk egter nie of hond haaraf gemaak word met die beperking van skadelike uitlaatgasse nie. Wetenskaplikes waarsku die wêreld om sy uitlaatgasse teen 2030 met die helfte te verminder as hy enige kans wil staan om ’n katastrofale klimaatsineenstorting te voorkom.

Die jongste temperature op Antarktika moet nog deur die Wêreld- Meteorologiese Organisasie (WMO) bevestig word, maar dit weerspieël die algemene neiging in die streek waar temperature die afgelope 50 jaar met 3 °C gestyg het.

A walvis swem op 2 Februarie in Antarktika. Foto: Reuters

Die rekordtemperatuur van 20,7 °C op 9 Februarie is op Brasilië se Antarktiese basis op Seymour-eiland gemeet. Carlos Schaefer, een van die wetenskaplikes op die basis, het aan The Guardian gesê hulle het nog nooit so iets ervaar nie.

Daar was ook rekordhoë temperature in Skandinawië, Asië, die Indiese Oseaan, in die sentrale en westelike dele van die Stille Oseaan, die Atlantiese Oseaan en Sentraal- en Suid-Amerika.

Pine-eiland in Antarktika het dié vasteland se kwesbaarste gletser en verloor sedert 2012 58 miljard ton ys per jaar. Dit is die grootste enkele bydraer tot stygende seevlakke. Data oor Pine-eiland word die afgelope 30 jaar bygehou en in dié tyd het sy vorm en posisie drasties verander.

Wanneer die Thwaites-gletser hier heeltemal opbreek, sal die seevlak wêreldwyd met sowat 3 m styg.

Dit sal baie stede langs die see, van Shanghai tot Londen, se voortbestaan bedreig. In Amerika is veral New Orleans, Houston en Miami kwesbaar.

Europa het talle laagliggende lande wat kwesbaar is, waaronder veral Nederland. – Mail Online, The Guardian, akipress.com




Meer oor:  Klimaatsverandering
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.