Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
2020 tweede warmste jaar nóg

Vanjaar was, naas 2016, die warmste jaar in menseheugenis, meen die Wêreld- Meteorologiese Organisasie (WMO).

Vyf stelle data sonder 2020, ’n jaar gekenmerk deur hittegolwe, droogtes, veldbrande en orkane, uit as die tweede warmste sedert rekordhouding in 1850 begin het.

“2020 gaan heel waarskynlik wêreldwyd een van die drie warmste jare wees,” sê dié agentskap van die Verenigde Nasies (VN) wat in Genève gesetel is, in sy jaarlikse verslag oor die stand van die wêreldklimaat.

Aangeblaas deur uiterste hitte, het veldbrande vanjaar oor Au­stralië, Siberië en die VSA heen gewoed en enorme rookkolomme die lug ingestuur.

Die mensdom voer ’n oorlog teen die natuur. Dit is selfdood.

António Guterres, die VN se sekretaris-generaal, het in ’n toespraak by die Columbia-Universiteit in New York gesê mensgemaakte kweekhuisgasse moet die skuld kry en regeringsbeleide skiet nog te kort om die uitdagings die hoof te bied.

“Om dit eenvoudig te stel, die toestand van die planeet is gebreek,” sê Guterres. “Die mensdom voer ’n oorlog teen die natuur. Dit is selfdood.”

’n Rekordtoename in seetemperature, waartydens 80% van die wêreld se oseane ’n mariene hittegolf beleef het, is ’n minder opsigtelike teken van klimaatsverandering, sê die WMO.

“2020 was ongelukkig weer eens ’n uitsonderlike jaar vir ons klimaat,” sê Petteri Taalas, die WMO se sekretaris-generaal, en vra om strenger optrede om uitlaatgasse te beperk.

Die konsentrasie kweekhuisgasse het in 2019 nuwe rekordhoogtes bereik en het tot dusver vanjaar bly styg, ondanks ’n verwagte vermindering weens Covid-19-inperkings, het die WMO verlede maand gesê.

2020 was ongelukkig weer eens ’n uitsonderlike jaar vir ons klimaat.

Luidens die jongste WMO-verslag was die gemiddelde wêreldtemperature van Januarie tot Oktober 1,2 °C hoër as die maatstaf van 1850 tot 1900 en plaas dit dié jaar as geheel ’n kortkop voor 2019 en agter 2016.

Warm jare word tipies gekoppel aan El Niño, ’n natuurlike verskynsel wat warm lug van die Stille Oseaan vrystel. Vanjaar val saam met die La Niña-verskynsel, wat die teenoorgestelde uitwerking het en temperature laat daal.

Die WMO sal die data in Maart 2021 bevestig.

’n Klimaatsverdrag wat vyf jaar gelede in Parys gesluit is, verplig lande om pogings aan te wend om temperatuurverandering tot 1,5 °C te beperk.

Wetenskaplikes waarsku dat enigiets meer katastrofies sal wees.

Hoewel dit nie dieselfde is as om daardie langtermyn-verhittingsdrempel oor te steek nie, meen die WMO daar is ’n 20%-kans temperature kan tydelik, op ’n jaargrondslag, teen 2024 daardie vlak bereik.

Guterres sê natuurrampe wat aan klimaatsverandering toegeskryf word, het die wêreld verlede jaar nagenoeg $150 miljard (sowat R2 300 miljard) gekos en lug- en waterbesoedeling eis jaarliks sowat 9 miljoen lewens.

Hy het wêreldleiers gesoebat om besteding aan die Parys-verdrag te verhoog, om pogings te finansier om by klimaatsverandering aan te pas en om hulle daartoe te verbind om uitlaatgasse tot netto zero te beperk. – Reuters

Meer oor:  Wmo  |  António Guterres
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.