Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
24 SA leeus in Mosambiek hervestig

24 leeus wat in Suid-Afrika gevang is, word tans in die Zambezi-delta in Mosambiek hervestig in ’n poging om die ekostelsel daar, wat deur die jarelange burgeroorlog in die land geruïneer is, te herstel.

Vier van die 24 leeus is in die Tembe-olifantpark in die noorde van KwaZulu-Natal gevang en die ander 20 in die Makalali- private natuurreservaat buite Hoedspruit in Limpopo.

Die Twenty Four Lions-projek het in ’n verklaring op Twitter gesê die doel met die hervestiging van die leeus is om tien miljoen hektaar tot die habitat van dié bedreigde roofdier te voeg.

Een van die leeuwyfies wat as deel van die Twenty Four Lions-projek van Suid-Afrika na Mosambiek geneem is.Foto: Twenty Four Lions

Musa Mntambo, woordvoerder van KZN Wildlife, sê dié bewaringsorganisasie het die vier leeus in Tembe laat vang en die diere aan die Twenty Four Lions-projek geskenk. Volgens hom is dit noodsaaklik dat die habitat van leeus uitgebrei word.

Luidens die verklaring was die eerste stap in hierdie “grootste hervestiging van leeus oor landsgrense heen” om die leeus te identifiseer. Hulle moes almal wilde leeus wees, maar van dieselfde subspesie as dié wat in Mosambiek aangetref word.

Die leeus is eers by die Msunduze River Lodge in die noorde van KwaZulu-Natal in kwarantyn in bomas aangehou. Hierna is hulle verdoof en per pad na die Mkuze-lughawe geneem, waarna hulle na die Kruger Internasionale Lughawe gevlieg is. Hulle is van hier af met die nodige permitte na Mosambiek uitgevoer.

Omgewingsgroepe soos Roar, ’n internasionale bewaringsorganisasie, is veral omgekrap omdat die leeus in die jaggebied Coutada 11 in die Zambezi-delta vrygelaat is. Dié gebied word bestuur deur ’n plaaslike gemeenskap wat ’n inkomste uit jag en ekotoerisme verdien.

Roar is bekommerd dat die hervestiging van die leeus eintlik vir jagdoeleindes is.

Vier universiteite, dié van Oxford, die Universiteite van Kaapstad en Maputo en die Rhodes-Universiteit, is by die projek betrokke.

Twenty Four Lions het Roar egter op Twitter gerusgestel en gesê die leeus sal “beslis” nie gejag word nie.

Die doel met die hervestiging is om die leeus te laat aanteel sodat ’n volhoubare bevolking in dié deel van Mosambiek gevestig kan word. Die organisasie voorspel as “alles volgens plan verloop” behoort die 24 leeus binne die volgende 30 jaar tot 500 te vermeerder.

Twenty Four Lions wys daarop dat daar ’n eeu gelede 200 000 leeus in Afrika was. Wetenskaplikes meen daar is nou op die meeste 20 000 leeus oor. Leeus het reeds in 26 Afrikalande uitgesterf.

Elke leeu wat hier vrygelaat is, sal met ’n satelliethalsband toegerus word sodat sy bewegings dopgehou kan word, sê Twenty Four Lions.

Die projek het sy ontstaan gehad nadat ’n vennootskap gevorm is tussen die Cabela-familietrust, die Ivan Carter Wildlife Conservation Alliance en Zambezi Delta Safari’s.

Vier universiteite, dié van Oxford, die Universiteite van Kaapstad en Maputo en die Rhodes-Universiteit, is by die projek betrokke.

Meer oor:  Mosambiek  |  Leeus  |  Bewaring
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.