Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
3 nuwe gevalle van bek-en-klouseer

Drie nuwe gevalle van bek-en-klouseer het op ’n kommersiële plaas in Limpopo uitgebreek.

Die hoogs aansteeklike siekte wat deur ’n virus veroorsaak word het einde 2019 in die Capricorn-distrik in Limpopo uitgebreek.

Thoko Didiza, minister van landbou, het in Desember ’n landwye verbod geplaas op veeveilings om sodoende te voorkom dat die siekte versprei.

Boere, vleisprodusente en afslaers is egter bekommerd dat die huidige situasie meer skade as goed doen.

Koos van der Ryst, voorsitter van die Rooivleisprodusenteorganisasie (RPO), sê dit is van uiterse belang dat die situasie in die bedryf na normaal moet terugkeer.

Só lyk ’n bees wat met bek-en-klouseer besmet is se bek. Foto: Veterinary Network Bulletin

Hy het ’n beroep op Didiza gedoen om die verbod op veeveilings slegs in Limpopo te laat geld.

“Die huidige situasie is onuithoudbaar. Die rooivleisbedryf word lamgelê en kommersiële sowel as opkomende boere word baie erg geraak.”

Noko Masipa, DA-LP, stem saam en het ook gevra dat Didiza die landwye verbod op veeveilings moet ophef. Masipa stel ook voor dat die verbod slegs in Limpopo moet geld.

“Die situasie het versleg en nie verbeter sedert die verbod op veeveilings aangekondig is,” sê Masipa.

Van der Ryst en Masipa is dit eens dat daar nie genoeg finansiële steun is om die uitbreking van bek-en-klouseer op 13 plase, waaronder voerkrale in Limpopo, hok te slaan nie.

Hulle het die soveelste beroep op Didiza gedoen dat die polisie en weermag ingespan moet word om te verseker dat besmette diere nie in of uit die geaffekteerde gebiede vervoer mag word nie.

Masipa sê dit is veral opkomende boere wat baie erg geraak word omdat hulle boonop deur die droogte in seker dele van Limpopo beïnvloed word.

Die uitbreking van bek-en-klouseer in Januarie 2019 het tot ’n verbod op die uitvoer van vleisprodukte en wol gelei en die land sowat R10 miljard gekos, sê Masipa.

Landbou-organisasies en boere was in November geskok toe die departement van landbou aangekondig het dat daar nóg ’n uitbreking van bek-en-klouseer is.

Henk van de Graaf, streeksvoorsitter van TLU SA in Limpopo, sê hulle voel magteloos omdat Suid-Afrika sy status ’n bek-en-klouseer vrye land kwyt is.

Wildboere gaan ook nie hul vleis kan uitvoer nie en ander diereprodukte soos wol word ook geraak.

Van der Ryst sê hulle gee hul volle samewerking aan die departement van landbou en besef die erns van die situasie.

“Die bedryf sal baie streng selfregulering moet toepas en naspeurbaarheid van vee sal verhoog moet word. Boere sal ook verklarings van veeartse moet kry om diere se gesondheidstatus te bevestig.”

Reggie Ngcobo, woordvoerder van die departement van landbou, sê die landwye verbod op veeveilings geld steeds. Hy sê die plase waar bek-en-klouseer uitgebreek het is steeds in kwarantyn en amptenare van die departement van landbou is nog nie klaar met hul ondersoek om te bepaal presies waar oral die siekte reeds versprei het nie.

Bek-en-klouseer kom voor by diere met gesplete hoewe, soos beeste, skape, varke en bokke.

Van die simptome van bek-en-klouseer is dat diere lusteloos voorkom en nie wil vreet nie weens die sere in hulle bekke. Besmette diere skei ook oormatige speeksel af.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.