Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
50 olifante, 11 luiperds: Creecy sê ja vir trofeejag

Bewaringsorganisasies is woedend vir Barbara Creecy, minister van omgewingsake, bosbou en visserye, omdat sy vanjaar gaan toelaat dat trofeejagters 50 olifante en 11 luiperds mag doodskiet.

Creecy het in ’n skriftelike antwoord op ’n vraag van Hannah Winkler van die DA in die parlement oor die jag van olifante en luiperds in Suid-Afrika gesê­ die wetenskaplike owerheid by die Suid-Afrikaanse Biodiversiteitsinstituut (Sanbi) het in samewerking met amptenare van die konvensie oor die internasionale handel in bedreigde spesies (Cites) en ná oorlegpleging met belanghebbendes besluit 50 olifante kan vanjaar as trofeë in Suid-Afrika gejag word.

Volgens haar het Cites Suid-Afrika toestemming gegee om jaarliks 300 olifanttande uit te voer. Dit beteken dus dat 150 olifante gejag mag word, sê sy. Suid-Afrika se eie regulasie bepaal dat “ ’n beperkte aantal olifante gejag mag word”.

Provinsies mag saam dus net 50 jagpermitte uitreik vir vanjaar se jagseisoen, sê sy. 

Creecy sê geen van die diere mag in nasionale parke gejag word nie.

Barbara Creecy

Net alleenlopende olifante en dié wat “skade aanrig”, mag gejag word.

Oor luiperds sê Creecy daar is ná “wye raadpleging” besluit 11 mannetjies wat ouer is as sewe jaar, mag vanjaar gejag word. Sy sê permitte sal uitgereik word vir luiperds wat “probleme vir gemeenskappe” veroorsaak, as­ook vir dié diere wat in konflik is met mense.

Michele Pickover, direkteur van die EMS-stigting, sê sy en ander bewaringsgesindes is woedend dat Creecy toelaat dat 50 olifante vanjaar deur trofeejagters gejag mag word.

“Dit is nie net moreel onaanvaarbaar nie, maar ons is oortuig daarvan dat daar geen wetenskaplike gronde is vir die jag van hierdie hoogs intelligente, bedreigde en sosiale diere nie.

“Creecy moet onthou olifante huiwer op die rand van uitwissing,” sê Pickover.

“Trofeejag van olifante dra glad nie by tot bewaring nie. Die diere word bloot gejag vir die plesier daarvan, vir geld en die versugting om te oorheers.” 

Sy beklemtoon trofeejag het sy oorsprong in kolonialisme.

Pickover sê dit is goed en wel Creecy het bepaal geen olifant mag in nasionale parke gejag word nie, maar voeg by dié diere word wel gejag in natuurreservate wat aan die Krugerwildtuin grens.

Hoe regverdig Creecy dít, wil Pickover weet. 

Dr. Bool Smuts, direkteur van Landmark-stigting, het Woensdag gesê­ hy het verskeie voorleggings aan Creecy se departement, asook aan Sanbi gedoen oor die dalende bevolkingsgetalle van luiperds.

Sewe van hierdie luiperds (Panthera pardus) mag vanjaar gejag word, ondanks die feit dat die departement van omgewingsake nie weet hoeveel van dié roofdiere daar in Suid-Afrika is nie. Die foto van hierdie luiperd is in die Okavango Delta geneem. Foto: Collin Watts

Daar is duidelike wetenskaplike bewyse dat die luiperdbevolking in Suid-Afrika jaarliks met 10% krimp.

“Ons het nooit enige erkenning van ontvangs van ons voorleggings gekry nie.” 

Smuts sê hy het wel ’n lesing bygewoon wat Sanbi beskou het as oorlegpleging.

Volgens hom maak dit nie sin dat Creecy besluit het dat 11 luiperds gejag mag word nie. “Weet hulle ooit hoeveel luiperds in die land oor is?” vra hy.

“Die trofeejag van luiperds maak nie sin nie.”

Smuts sê dit is noodsaaklik om vas te stel wie druk op Creecy geplaas het om die kwotas vir trofeejag van luiperds te bepaal. 

Twitter-gebruikers beskuldig Creecy daarvan dat sy “barbaarse misdade teen wild toelaat” en dat sy Suid-Afrika se wild wanbestuur.

Die organisasie Campaign to Ban Trophy Hunting sê op Twitter hy dring daarop aan om te weet waarom trofeejag nog in Suid-Afrika toegelaat word.

Jill Mckie van die organisasie bestempel Creecy se besluit op Twitter as “walglik”.

Meer oor:  Michele Pickover  |  Bool Smuts  |  Barbara Creecy  |  Jag  |  Trofeejagters  |  Olifante  |  Luiperds
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.