Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
500 Krugerbokke emigreer na Mosambiek

Meer as 500 diere is die afgelope twee maande van die Krugerwildtuin in die Zinave- nasionale park in Mosambiek hervestig.

291 rooibokke (impala), 153 blouwildebeeste en 85 sebras is aan Zinave geskenk as deel van die herlewingsprogram van dié eens “glorieryke” natuurreservaat, het Ike Phaahla, Sanparke se woordvoerder, Maandag gesê.

Die laaste groep is einde Augustus na Zinave gebring.

’n Veldwagter hardloop saam met blouwildebeeste wat na Zinave in Mosambiek gebring is. Foto: VREDESPARKSTIGTING

Die Vredesparkstigting, die National Administration for Conservation Areas (ANAC) en Sanparke het in ’n gesamentlike verklaring gesê Suid-Afrika se departement van omgewingsake het die diere aan die Mosambiekse ministerie van grond, omgewing en landelike ontwikkeling geskenk.

Die uiteindelike doelwit is om sleutelbewaringsgebiede in Mosambiek te vestig en om dit later te verbind met die Groter Limpopo-oorgrenspark, waarvan die Krugerwildtuin deel is.

“As ons wild met ons bure kan deel, sal dit nie net ekotoerisme na Mosambiek bevorder nie, maar ook bydra tot ’n gebalanseerde ekostelsel vir die hele gebied,” sê Glenn Philips, uitvoerende bestuurder van die Krugerwildtuin.

Volgens Philips vaar die wildbevolkings in die Krugerwildtuin baie goed. Verskeie wildspesies se getalle is so gesond dat die verskuiwing van sommige bevolkings geen negatiewe invloed op die ekostelsel het nie.

Zinave, wat sowat 408 000 ha beslaan, begin nou eers herstel ná ’n burgeroorlog wat dekades lank geduur het.

Die uiteindelike doel is om 7 500 stuks wild in die volgende vyf jaar na Zinave te bring, sê Philips.

Twee sebras van die Krugerwildtuin in hul nuwe tuiste in Zinave.

Ná verskeie hervestigingsprojekte die laaste paar maande is daar nou 1 300 stuks wild in Zinave. Dit sluit 60 olifante in wat onlangs van die Venetia-natuurreservaat van die De Beers-diamantmyngroep in die Limpopokom geskuif is. Twee olifante is ook van die Dinokeng-natuurreservaat in Gauteng daarheen gebring.

Dit is een van die grootste natuurleweprojekte tot nog toe in Afrika en het in Junie verlede jaar begin.

6 000 stuks wild sal tot in 2020 van die Savé-vallei in Zimbabwe na Zinave verskuif word.

Nog ’n projek is die verskuiwing van 500 stuks wild van die Gorongosa- nasionale park in Mosambiek na Zinave.

Dié projek sal drie jaar duur en sluit die verskuiwing van honderde buffels, elande, kameelperde en sebras in.

Mateus Mutemba, direkteur-generaal van die ANAC, het gesê Mosambiek is “baie dankbaar teenoor Suid-Afrika vir die ruim skenking” en sy bydrae tot die heropbou van Zinave.

Hy het gesê alle diere wat na Zinave gebring word, word eers in ’n afgesperde gebied van 18 600 ha gehou sodat hulle by die omstandighede kan aanpas voordat hulle vrygelaat word.

Werner Myburgh, uitvoerende hoof van die Vredesparkstigting, het gesê die projek is ’n sprekende voorbeeld van dít waarvoor dié stigting hom beywer.

Die heropbou van Zinave is ’n noodsaaklike stap in die skep van korridors (deurgange) en die herstel van migrasieroetes van wild in Suider-Afrika. As die projek voltooi is, sal Zinave, Banhine, die Limpopo- Nasionale Park in Mosambiek, die Krugerwildtuin en Gonarezhou in Zimbabwe een groot oorgrenspark van bykans 100 000 vierkante kilometer uitmaak, het Myburgh gesê.

Meer oor:  Sanparke  |  Ike Phaahla  |  Krugerwildtuin  |  Bewaring
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.