Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
60 ton kreef loop reeds uit die see by Elandsbaai weens rooigety
Sowat 60 ton kreef het sedert die naweek weens die rooigety by Elandsbaai uit die see geloop. Foto: Liza van Deventer

Altesaam 60 ton kreef het sedert Saterdag weens die rooigety en lae suurstofvlakke in die seewater by Elandsbaai aan die Weskus uitgeloop.

Dié strand is vir die publiek gesluit, terwyl 50 vrywilligers van die Sederberg-munisipaliteit die dooie en lewendige kreef insamel en sorteer.

Volgens Lionel Adendorff, ’n woordvoerder van die visserye-afdeling van die nasionale departement van landbou, bosbou en visserye, het sowat 30 ton Maandag uitgeloop. Sedert Sondag heers ’n rooi waarskuwingskode in die gebied nadat meer as 10 ton kreef uitgeloop het.

Saterdag en Sondag se getalle was onderskeidelik 10 en 20 ton.

Die lewendige kreef word in tenks gehou en gaan dan per boot buite die rooigety in die see vrygelaat word.

Die rooigety strek van Dwarskersbos naby Velddrif tot by die mond van die Olifantsrivier naby Strandfontein.

Volgens Adendorff kry hulle baie goeie samewerking van die polisie en die plaaslike- en distriksmunisipaliteite. Die Suid-Afrikaanse weermag gaan dalk ook help met mannekrag en vragmotors om die kreef te vervoer.

“Beamptes in viertrek-voertuie monitor die strande en die see met verkykers. Ons volg die beweging van die rooigety, deur veral gebruik te maak van satellietbeelde,” sê Adendorff.

– ’n Digte konsentrasie see-alge is begin vandeesmaand in die see by Kaap Columbine opgemerk. Die departement se visserye-afdeling het ’n span wetenskaplikes na die gebied gestuur.

’n Rooigety is gerapporteer, maar in daardie stadium het geen krewe uit die see geloop nie. Die publiek is toe gewaarsku om nie enige skulpvis in dié kusgebied uit te haal en te verbruik nie, aangesien dit giftig kan wees.

Verlede Saterdagoggend het die kreef by Elandsbaai uit die see begin loop.

– So waarsku die kleurkodes:

Groen: voorkoms van rooigety, maar geen uitloop van kreef.

Geel: minder as 10 ton kreef loop uit see in een of meer gebiede.

Rooi: meer as 10 ton kreef loop uit die see. 

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.