Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
65 000 staan saam teen oliebore

Teen Sondagmiddag het meer as 65 000 mense van oor die wêreld heen ’n versoekskrif onderteken om die regering van pres. Hage Geingob van Namibië te probeer oorreed om ReconAfrica se olie- en gasbore uit dié land te skop.

Die versoekskrif is ook gerig aan pres. Mokgweetsi Masisi van Botswana.

Die Okavango-delta in Botswana.

ReconAfrica, ’n Kanadese maatskappy, se olie- en gasbore is op pad na die Kavangorivier in die noordooste van Namibië waar hy in die volgende twee weke drie toetsgate wil sink.

Luidens die versoekskrif word ’n unieke gebied in die noordooste van Namibië bedreig deur ’n “Kanadese stormloop vir olie”.

Frack Free Namibia, wat die versoekskrif opgestel het, vra mense om te help met die stryd teen ReconAfrica, wat olie, ’n fossielbrandstof, uit die Kavangorivier wil pomp.

Die bewaringsorganisasie waarsku die klimaatkrisis gaan met die uitpomp en verbranding van nog olie katastrofies wees.

Ina Shikongo, omgewingsaktivis en lid van die klimaatgroep Fridays for the Future, sê in die versoekskrif Namibië se olie en gas moet onder die grond bly.

“Die uitpomp en verbranding van die olie gaan katastrofies wees vir die wêreld se klimaat en ook vir die wildlewe hier, die waterbronne en die lewensmiddele van die inwoners.”

ReconAfrica meen miljarde vate olie lê in dié gebied opgesluit.

Die maatskappy het glo ’n prospekteerlisensie gekry, ’n tweedehandse olie -en gasboor in Amerika gekoop en dit per skip oor die Atlantiese Oseaan vervoer. Die skip het op 10 Oktober in Walvisbaai vasgemeer.

Vragmotors neem nou die toerusting na die noordooste van die land.

Shikongo sê die ekologiese skade van die projek sal “onmeetbaar” vir Namibië wees, asook vir die Okavango-delta in Botswana, ’n Wêrelderfenisgebied.

Die Okavango-delta, met sy unieke biodiversiteit, waaronder uitsonderlike wildlewe, bied deur middel van ekotoerisme ’n reuse-inkomste aan Botswana. Die voortbestaan van die plaaslike San, wat in die opvangsgebied van die Okavango-delta woon, word ook ernstig bedreig.

“Ons moet ReconAfrica se projek ter wille van die klimaat, die bewaring van biodiversiteit, water en die voortbestaan van plaaslike gemeenskappe keer,” lui die versoekskrif.

Frack Free Namibia het ook ’n pleidooi aan die Verenigde Nasies se Opvoedkundige, Wetenskaplike en Kulturele Organisasie (Unesco) gerig om in te gryp. Unesco het nog nie daarop gereageer nie.

  • Die Okavango-delta het in 2014 Wêrelderfenisstatus gekry. Dr. Annette Huschle, omgewingswetenskaplike van die Global­ Risk Governance Programme, sê ReconAfrica se operasie sal “massiewe hoeveelhede” water nodig hê.

Vir die hidrobreking van een olieboorgat sal minstens 2 miljoen liter water nodig wees, sê Huschle.

Meer oor:  Namibië  |  Land
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.