Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
65 bedreigde voëls vergiftig
‘Sterf 1 van broeipaar, sterf generasie’
Die toneel waar van die aasvoëls verlede week op private grond buite Hoedspruit gekry is. 65 aasvoëls en een roofarend is vermoedelik deur stropers vergiftig. Foto: André Botha

65 aasvoëls en ’n roofarend is naby Hoedspruit vergiftig, vermoedelik vir moetie.

Sommige mense glo dele van aasvoëls maak hulle heldersiende, volgens André Botha, bestuurder van die roofvoël-program van die Trust vir Bedreigde Natuurlewe (EWT). Hulle koop dit dus om die uitslae van perdewedrenne, die Lotto en belangrike gebeurtenisse te voorspel.

Botha is Donderdag vroegoggend na die private grond naby Hoedspruit waar strepe van die aasvoëls uitgewis is met twee vergiftigde karkasse.

Die foto’s vang nie die omvang van die tragedie vas nie, het hy gesê oor die toneel waar die 50 bedreigde witrugaasvoëls, 14 kransaasvoëls en ’n monnikaasvoël dood gelê het.

Die situasie is veel erger as wat dit klink, het hy gesê. Die aasvoëlspesies is almal kwesbaar.

“Kan jy jou die geweldige reaksie indink as daar 60 dooie renosters op die grond lê?”

Die voëls het aan die vergiftigde karkas van ’n klein sebra en die vergiftigde blad, nek en kop van ’n koedoekoei gevreet. Die diere is glo deur stropers in ’n strik gevang. Nadat die vleis wat verkoop kon word, afgesny is, is die res van die karkasse vergiftig. Van die koedoe se ribbe met stukke vleis aan is in ’n boom gehang, wat Botha laat glo die voëls is spesifiek geteiken.

Volgens Botha het die broeitydperk vir die voëls pas begin. “Ongeveer die helfte van die dooie voëls was volwassenes met broeipoten­siaal.”

Hy meen daar is nou broeimaats wat vergeefs by hul nes wag.

Die toneel is ontdek voordat die stropers die dooie aasvoëls kon verwyder.

Botha-hulle het die toneel skoongemaak, die karkasse verwyder en monsters geneem om te bepaal watter soort gif gebruik is.

Hy vermoed iets soos Aldicarb, ’n vinnig werkende gifstof, is gebruik. “Die voëls was besig om te eet. Daar was nog kos in hul bekke.”

Hy vra mense moet sulke voorvalle by hul provinsiale natuurbewaringsinstansie, die polisie of die EWT aanmeld.

Dr. Gerhard Verdoorn, hoof van die Griffon-gifinligtingsentrum (GPIC), het gesê as een van ’n broeipaar sterf, wis dit ’n generasie uit. Die eier sal dan nie uitbroei nie omdat die mannetjie én wyfie nodig is vir die broeiproses.

In die eerste drie weke van die broeitydperk moet die temperatuur presies reg wees. Indien die aasvoël volgens Verdoorn vir selfs net 12 minute van die eier af is, gaan die uiters sensitiewe embrio dood.

Volgens Verdoorn lê die kransaasvoëls nou, en moet die witrug-aasvoëls amper begin eiers lê.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.