Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
9 jong aasvoëls vrygelaat
Een van nege jong kransaasvoëls wat Donderdag vrygelaat is. Foto: Deaan Vivier

Nege jong kransaasvoëls het Donderdag die wêreld sterker en slimmer aangedurf toe hulle op die plaas Nooitgedacht in die Magaliesberge in Gauteng vrygelaat is.

Al dié aasvoëls is nog nie ’n jaar oud nie, en het by Vulpro, ’n bewaringsentrum vir aasvoëls in Hartbeespoort, aangesterk nadat hulle in Desember gered is. Twee van hulle het in die digte hiasinte op die Hartbeespoortdam vasgesit.

Ryno Kemp, Vulpro se navorsingsbestuurder, sê die res het ook op die een of ander manier op die grond beland en was gedehidreer of nie sterk genoeg om weer te vlieg nie.

Die jong kransaasvoëls is op ’n plaas in die Magaliesberge vrygelaat. Foto: Deaan Vivier

“Sodra hulle groot genoeg is, wat rondom Oktober en November is, word hulle uit die nes geskop en hulle moet hul eie ding doen. Hulle is dus volgroeid, maar onervare en dit veroorsaak dat hulle land waar hulle nie moet nie, soos in die dam,” sê hy.

“Oor die algemeen oorleef baie min aasvoëls hul eerste jaar, omdat hulle elke dag met soveel gevare te doen kry. As hulle nie in kragkabels verstrengel raak of geskok word nie, word hulle vergiftig of vir moetie doodgemaak. Daarom is dit vir ons belangrik om elkeen te probeer red.”

Lede van die publiek kon in ruil vir ’n skenking ’n krat oopmaak om een van die kransaasvoëls vry te laat. Foto: Deaan Vivier

Die rehabilitasieproses by Vulpro verskil volgens elke voël se behoefte, maar kan mediese behandeling en spesiale diëte insluit.

Donderdag se groep is eers in Vulpro se kampe gevang en in kratte na Nooitgedacht geneem waar hulle drie op ’n slag vrygelaat is. Lede van die publiek kon die geleentheid bywoon en ’n krat oopmaak in ruil vir ’n skenking.

Die jong kransaasvoëls is almal in Desember gered. Foto: Deaan Vivier

Van die kransaasvoëls het dadelik die gebied begin verken, terwyl ander uit hul krat aangepor moes word en die situasie eers goed bekyk het voordat hulle by die aasvoëls wat in die lug sirkel, aangesluit het. Die span by Vulpro glo dié nege jongelinge sal maklik by die gevestigde kransaasvoël-kolonies in die Magaliesberge inskakel.

Kemp sê dit is nie moontlik om vir elke aasvoël ’n opsporingstoestel aan te sit nie, tensy finansiering dit toelaat.

’n Kransaasvoël verken sy nuwe gebied. Foto: Deaan Vivier

“Die nege wat vandag vrygelaat is, het ’n ring van die Suid-Afrikaanse Voëlringeenheid (Safring) en ’n gekleurde band om hul pote. As die publiek hulle sien, kan hulle dit by ons aanmeld.”

Behalwe vir die verskeie bedreigde aasvoëlspesies wat by Vulpro gerehabiliteer word, doen die organisasie navorsing en opvoeding.

“Aasvoëls is ongelooflik belangrik en mense besef dit nie altyd nie. Hulle eet ’n karkas skoon. Nes hiënas en ander aasvreters speel hulle ’n belangrike rol om ons omgewing skoon te hou, anders gaan ons baie meer siektes sien wat mense ook kan beïnvloed,” sê Kemp.

Meer oor:  Natuur
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.