Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Aasvoëls nou só beskerm
Kragdrade beveilig om beserings te keer
PJ, een van die beseerde aasvoëls, Donderdag by die VulPro-sentrum buite Hartbeespoort. PJ het vroeër vanjaar teen ’n kragdraad in die omgewing vas gevlieg en word sedertdien by die VulPro-sentrum behandel. Foto: Herman Verwey
Werkers van die Tshwane-munisipaliteit maak Donderdag reflekterende plaatjies aan kragdrade vas. Die plaatjies maak die kragdrade meer sigbaar en verhinder dat voëls daaraan vasvlieg.
PJ die aasvoël by die Kerri Wolter, die bestuurder van die VulPro-sentrum buite Hartbeespoort. PJ se vlerk is vroeër vanjaar beseer toe hy teen ’n kragdraad vasgevlieg het. Foto: Herman Verwey
’n Dag oue aasvoël by die VulPro-sentrum buite Hartbeespoort. Dié aasvoël is in aanhouding gebore en sal ná ses maande vrygelaat word. Foto: Herman Verwey

Harmonie tussen mens en dier is ál manier waarop aasvoëls sal kan oorleef.

Hulle word veral bedreig deur vergiftiging en kragdrade, volgens Kerri Wolter, voorsitter van VulPro, ’n bewaringsorganisasie wat na verskeie beseerde roofvoëls omsien.

Groot kolonies kransaasvoëls kom in die Magaliesberg voor en talle van hulle word teen die kragdrade beseer.

VulPro het daarom Donderdag in samewerking met die Tshwane-munisipaliteit sowat 600 reflekterende plaatjies aan verskeie kragdrade langs Van der Hoffweg tussen Pretoria en Hartbeespoort aangebring om die drade duideliker sigbaar te maak.

Die plaatjies is teen R55 elk privaat geborg.

Volgens Wolter kan die aasvoëls nie die drade sien wanneer hulle vlieg nie. As hulle ’n kragdraad teen sowat 60 km/h tref, kan hulle lelik seerkry.

Sowat 90% van die beseerde aasvoëls wat VulPro behandel, het kragdraadbeserings. Dikwels moet hul vlerke geamputeer word. Die meeste oorleef dit egter nie, het Wolter gesê.

Dit is moeilik om te bepaal hoeveel aasvoëls deur kragdrade beseer word.

“Ons word slegs bewus daarvan indien iemand dit optel en vir ons bring. Maar roofdiere kan eerste by die karkas uitkom en dit wegdra,” het Wolter gesê.

“ ’n Aasvoël kan ook nog lang afstande te voet aflê met ’n gebreekte vlerk. Dus is dit baie moeilik om statistieke uit te werk.”

Tot dusver vanjaar het VulPro sowat 100 aasvoëls met kragdraadbeserings behandel.

Lees ook:

■ 65 bedreigde voëls vergiftig

■ ​Deur die lens: Jakkals 'steel' sy happie kos

■ ​Aasvoëls vreet weerlig-karkasse wel

■ ​Dooie beeste in veld gelos vir aasvoëls, wilde diere

■ ​Meer aasvoëls raak verlam

Volgens Wolter is ál oplossing om die kragdrade te beveilig.

“Al wat ons kan doen, is om dit met die plaatjies te merk, maar dit sal miljoene rande kos om alle kragdrade in Suid-Afrika so te beveilig.”

Wolter het hul samewerking met die Tshwane-munisipaliteit as ’n “wen-wen-situasie” beskryf.

 Beeld het in Maart berig oor ’n aasvoël wat per spoedpos van Port Elizabeth na Pretoria gestuur is vir verdere behandeling. Die aasvoël is by VulPro versorg nadat sy teen ’n kragdraad vasgevlieg het.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.