Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Dooie beeste in veld gelos vir aasvoëls, wilde diere
Een van die koeie van die trop Drakensberger-beeste wat naby Lydenburg (Mashishing) deur die weerlig doodgeslaan is. Foto: Jacques Blake
Die trop Drakensberger-beeste wat naby Lydenburg (Mashishing) deur die weerlig doodgeslaan is. Foto: Jacques Blake

Al het hulle ’n verlies van bykans R160 000 gely toe die weerlig Saterdagaand 24 van hul Drakensberger-beeste doodgeslaan het, is die natuur die uiteindelike wenner.

Die karkasse gaan nie begrawe word nie, maar in die veld gelos word sodat wilde diere daaraan kan vreet.

Jacques Blake, ’n boer van die plaas Wanhoop sowat 45km van Lydenburg (Mashishing) op die Dullstroom-pad in Mpumalanga, sê hulle het Saterdag ’n beeste-telling gehou voordat die diere die veld in is om te gaan wei.

Die trop Drakensbergers is glo die nag teen die steil hellings van die Steenkampsberg op en het naby die kruin van die berg op ’n gelykte gewei toe die weerlig die 18 koeie en ses kalwers (waarvan een sowat twee weke oud was) doodgeslaan het.

"Ons het deur die nag ’n erge storm beleef en ek is Sondagoggend vroeg berg-op om te gaan seker maak ons diere is oukei. Dit is toe ek op die dooie diere afkom. Dis nie ’n mooi gesig nie," het Blake Maandag aan Netwerk24 gesê.

Hy sê die diere was op ’n redelik onherbergsame gedeelte van die Steenkampsberge en redelik naby aan die bopunt van die berg toe die weerlig hulle getref het.

Die res van die diere in die trop is ongedeerd. Die diere is intussen na ander kampe verskuif.

"Ons het aanvanklik vermoed hulle het dalk op ’n ander manier, soos vergiftiging, gevrek, maar ’n veearts het bevestig die diere is deur weerlig getref. Al die diere het in ’n radius van ongeveer 15 m van mekaar af gelê. Een van die kalwers het reg teen sy ma gelê," sê Blake.

Hy sê jakkalse het reeds deur die nag aan die karkasse begin vreet. "Daarom het ons besluit om nie die karkasse te begrawe nie. Die natuur moet sy gang gaan. Ons verwag ook dat van die skaars aasvoëls in die ongewing en wat hoofsaaklik teen die krans van die Steenkampberg broei, ook maaltye hier gaan kom nuttig." 

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.