Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Hengelaar vang gróót kabeljou van 60 kg
Renier Nortje met die reuse-kabeljou wat hy by Glentana gevang het. Foto: Quinton Rall

George. – ’n Tamaai kabeljou – so lank en groot soos ’n volwasse man – het die oë laat rek toe ’n hengelaar dit op ’n strand naby die kusdorpie Glentana uitgetrek het.

Die vis van 1,8 m lank is verlede Saterdag deur Renier Nortje (39), ’n bewaarder van die departement van korrektiewe dienste in George, in die omgewing van die Botha-strand, Glentana, gevang. Die kabeljou het die skaal op 60,1 kg getrek.

“Dit was ’n gespook van byna 45 minute,” het Nortje Donderdag vertel. “Die vis het ongelukkig gevrek teen die tyd dat ek hom op die strand gekry het.”

Hy het aanvanklik nie besef dat dit ’n kabeljou is nie. “Eers later het ek dit besef.”

Volgens hom het mense van nabygeleë huise nuuskierig strand toe gestaan om die kabeljou van naderby te bekyk.

“ ’n Tannie het die vis een kyk gegee en gesê: ‘Dit is ’n m**rse groot vis’,” het hy vertel. “Ek is 1,75 m lank en die vis was langer as ek. Sy kop was groot en in sy pens het ons drie groot kolsterte gekry. ’n Kabeljou vreet enige ding.”

Terug by die huis het Nortje se seuntjie, Dillon Derché (4), aan sy pa gesê: “Maar jy vang groot visse.”

Volgens Nortje was die vis te groot om by die huis in ’n vries- of yskas te hou. Dit word vir eers in ’n restaurant se koelkamer gehou. Hy beplan om dit na ’n taksidermis te neem en as ’n trofee tuis uit te stal.

Lees ook:

■ Poging om walvis te red, misluk

■ Platsak verbruikers sê nee vir vis, ja vir hoender

■ Swem met gróót visse

■ Snoek is soek: Vissers bekommerd oor skaarste

■ Man gered ná 66 dae ter see

Nortje hengel al sowat tien jaar. Dieselfde dag dat hy die kabeljou uitgetrek het, het hy ook ’n leervis en ’n gespikkelde sloephaai gevang.

“Ek weet nie, maar dit lyk of die groter visse veral in die winter byt,” het hy gesê.

Volgens die Atlantic-hengelklub, waar Nortje ’n lid is, het die swaarste kabeljou wat al aan die Suid-Kaapse kus gevang is, 70,6 kg geweeg.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.