Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Hier word geboer om God te dien
‘Ons ervaar ’n heel ander vorm van seën’
Petrus Grové (links) saam met twee pasiënte van die Bonang Bacha-hospice, Joseph Mthakathi en Pule Mokhachane. Foto: Siska Martin
Kleuters van die Missio Dei-skool glimlag breed vir die kamera. Foto: Siska Martin
Gewasse soos sojabone, koring, mielies en sorghum, asook kuilvoer word deur die saaiboerdery verbou. Foto: Verskaf
Holsteins by ’n voerkrip op Dunoon. Foto: Verskaf
Leerlinge aan die Missio Dei-skool by Ficksburg speel in pouse op die speelterrein. Foto: Siska Martin
Die skaapboerdery bestaan meestal uit dohne-merino’s waarvan ook wol geproduseer word. Foto: Verskaf

Drie keer per week kom hulle bymekaar. Hulle bid, hulle vas en hanteer enige konflik wat tussen hulle opduik.

Hulle bid ook nie net nie, hulle wag. Hulle wag dat die Here met hulle praat en totdat hulle almal saamstem oor enige besluite wat geneem moet word. Hulle weet dis hoe hulle dit moet doen, hulle het al besluite geneem sonder dat almal saamstem . . . en duur lesse geleer.

Dit is die mense van die MD Foundation by Ficksburg. Dié boerdery bestaan uit vier afdelings – melkboerdery, saaiboerdery, beesboerdery en skaapboerdery – asook ’n skool en hospice.

“Ons wil die koninkryk van die Here sien kom. Dit is nie ’n tweedehandse saak nie, dit moet die beste wees, want Hy is die Koning van alles. Ons wil die beste rentmeesters wees wat ons kan wees,” sê Petrus Grové, die predikant in die groep.

Die MD Foundation is in 2010 begin nadat vyf vriende om verskillende redes gevoel het dat boerdery soos hulle dit geken het nie meer vir hulle ’n opsie is nie. Vandag is 12 gesinne reeds hierby betrokke.

Hannes se droom 

Lindie von Maltitz, Friedl se vrou, vertel Hannes Pretorius het in 2003 ’n droom gehad waarin die groep vriende almal saam boer. “Toe hy ons daarvan vertel, het ons gesê hy is mal.

“Ons was nie meer lus om met die individuele boerderye voort te gaan nie, maar ons was bekommerd oor wat van ons 180 werkers sou word.

“Ons het die Here se aangesig gesoek en almal het woord uit Jes. 58:7 gekry – Is dit nie dat jy vir dié wat honger is, van jou brood gee nie, dat jy aan die armes en die dakloses ’n blyplek gee nie, dat wanneer jy iemand sonder klere sien, jy vir hom klere gee nie, dat jy jou medemens nie aan sy lot oorlaat nie? Ons het teruggeval op Hannes se droom en besluit om alles wat ons het saam te voeg. In 2010 het ons die maatskappy gestig en vir elkeen ’n afdeling gegee om te bestuur,” vertel Lindie.

MD staan vir Missio Dei – God se sending. Alle inkomste uit die boerdery word aangewend om God se doel uit te leef.

“Ons almal se totale dagtaak is gerig op die uitleef van God se doel. Dit is vir ons belangrik dat mense moet weet hoekom ons doen wat ons doen.

“Hierdie was nie net ’n geval van ons wat bymekaarkom en besluit om saam te boer nie,” sê Hannes.

Petrus beklemtoon hulle doen dit nie vir geld nie.

“Ons ervaar ’n heel ander vorm van seën. Ons krag lê in die feit dat die Here hierdie boerdery seën.” Uitdagings ’n Maklike pad is dit egter nie. “Daar is uitdagings, maar ons gesamentlike doel hou ons bymekaar,” sê Lindie.

“Die Here het ons gewys dat dit nie oor ons gaan nie en dat verhoudings belangrik is. Ons is mense met verskillende idees bymekaar en konflik was onvermydelik. Veral die tweede jaar was moeilik, elkeen van ons moes besef ons hoef nie vir onsself te veg nie. Ons moes onsself verloën,” vertel Petrus.

Konflik word onmiddellik en eerlik hanteer, sê hy. “Ons laat mekaar toe om ons menings te lug en gee mekaar toestemming om te verskil. Ons is mense, ons het verskille, maar God help ons om eenheid te kan nastreef.”

Ten einde hierdie eenheid te versterk kom die hoofde van die verskillende afdelings Dinsdae bymekaar om oor sakebesluite te gesels. Woensdae vas en bid die gesinne saam en Donderdagaande word verhoudings gebou, Bybelstudie gehou en saamgekuier.

Gemeenskap In Januarie 2010 is ’n plaashuis in ’n volledige gesondheidsorgsentrum onder leiding van Patricia Molipa omgeskep. Altesaam 14 terminale en ernstig siek pasiënte word hier in die Bonang Bacha-hospice behandel. Nog sowat 50 word met tuisversorging gehelp. Hoewel Bonang Bacha “sien die jong mense” beteken, word hier na mense van alle ouderdomme omgesien.

Met gehalte-onderwys wat ’n uitdaging is, is die Missio Dei-skool in 2012 op een van die plase begin. Dit was aanvanklik net ’n kleuterskool, maar soos die kinders vorder, kom ekstra klasse by. Volgende jaar word ’n gr. 2-klas ook begin. Hier is reeds 72 leerlinge in die skool met Geertjie Venter as die hoof. Die leerlinge, van wie sommige so ver as 40 km van die skool af woon, word met ’n bus aangery skool toe.

Dissipelskap is volgens Petrus vir die groep belangrik en plaaswerkers word hierin opgelei. “Ons wil gemeenskappe op die plase vestig wat koninkryk-gedrewe is. Ons sien dissipelskap ook as ’n leefwyse.”

Enigeen welkom Petrus sê enigeen is welkom om hom of haar by die MD Foundation aan te sluit op dieselfde voorwaardes wat huidige lede geld.

“So ’n mens moet bereid wees om alles prys te gee en deel te word van wat hier reeds is om dit in diens te stel van die doelwit.

“Ons wil weet hoekom hy hier wil wees en wat is sy roeping. Ons wil ook seker maak hy weet watter bydrae hy tot sy gesin en die uitbreiding van dit wat ons doen, gaan maak.”

Hy sê hul boodskap is juis om vir mense te sê God het vir hulle ’n plan, ook vir hul 220 permanente werkers. “Een van ons groot uitdagings is om ’n eenheid saam met ons werkers te vorm. Hoewel ons aanvanklik almal bymekaar gekry het om saam te bid was dit weens die logistiek daarvan nie prakties nie. En almal wou ook nie saam bid nie! Nou werk ons daaraan om verhoudings met hulle te bou en sodoende eenheid te bewerkstellig. Ons maak ook seker ons verstaan hul behoeftes voordat ons iets doen.”

Só werk dit “Wat ons het, behoort aan die gemeenskap en ons moet die gemeenskap daarmee dien,” sê Jacques. “Niemand het aandele nie, niemand verdien dividende nie en ons het ook geen salarisstrukture nie. Elke gesin sit elke maand ’n behoefte in en ons besluit dan saam oor die toekenning daarvan. Ons moet só leef dat ander ook kan leef.”

“Ons doel is nie om groot te boer nie, die boerdery is ’n gereedskapstuk om God se doel te bereik,” voeg Hannes by.

In 2010 het die vyf oorspronklike lede van die MD Foundation ’n maatskappy gestig. Die aandele in die maatskappy is alles in ’n trust geplaas waarvan hulle almal lede is.

Hierdie trust word deur trustees bestuur wat deur die groep aangewys word.

Die gemeenskapsprojekte val onder Missio Dei, ’n artikel 21-maatskappy sonder winsbejag. 

 Besoek die webblad www.md­foun­dation.co.za vir meer inligting.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.