Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Leeuman ‘nie welkom in SA’
TV-ster trek glo leeus se naels, ry op hul rûe
Craig Busch en sy meisie, die sangeres Mari Minnaar. “Ek hou van haar, want my katte hou van haar.” Foto: Theana Breugem

Die omstrede Nieu-Seelandse leeutemmer en ster van twee realiteitsreekse op die natuur-TV-kanaal Animal Planet , Craig Busch, het hom nou in Suid-Afrika gevestig waar hy “ ’n bydrae wil lewer om leeus en ander katspesies van uitwissing te red”.

Suid-Afrikaanse bewaringskundiges sê egter Busch, wat berug is om sy wrede praktyke, soos om leeus te “ontnael”, is nie welkom in Suid-Afrika nie en wonder hoe hy dit reggekry het om permitte te bekom om groot katte hier aan te hou.

Busch, internasionaal bekend om sy twee TV-reekse The Lion Man en The Lion Man: African Safari, het ’n string Nieu-Seelandse skuldeisers op sy spoor en was jare lank met sy ma, Patricia, in ’n hofstryd gewikkel oor die eienaarskap van die Zion Wildlife Gardens (deesdae die Kingdom of Zion) – ’n dieretuin naby Whangarei, ’n stad in die noorde van Nieu-Seeland.

“Ek kruip nie meer weg nie. Ek het uit Nieu-Seeland gevlug om weg te kom van die leuens wat oor my vertel word,” het Busch die afgelope week aan Rapport gesê.

Busch sê hy wil naby Rustenburg skaars katspesies teel en só ’n bydrae tot natuurbewaring in Suid-Afrika lewer.

Plaaslike bewaringskundiges is egter nié so opgewonde oor die bydrae wat dié moderne Tarzan kan lewer om Afrika se leeus te bewaar nie.

Hulle is onder meer ongelukkig oor sy praktyk om groot katte se naels te trek (’n praktyk wat onwettig is in Suid-Afrika) en die talle bewerings oor mishandeling van leeus en die doodmaak van welpies wat al teen Busch of sy werknemers gemaak is.

In een van sy reekse het hy byvoorbeeld ’n leeu soos ’n perd gery en in ’n ander soen hy ’n leeu op die mond.

In een van sy reekse het hy byvoorbeeld ’n leeu soos ’n perd gery en in ’n ander soen hy ’n leeu op die mond.

Fred Berrange van die Leopard Conservation Park noord van Johannesburg sê hy ken Busch al lank en het voorheen saam met hom aan televisieprogramme gewerk.

Berrange sê hy slaan sy mak leeu, Jabula, met ’n stok om hom te dwing om saam met hom op ’n bank te sit en televisie kyk. Busch skuld hom ook geld, beweer Ber­range.

“Hy is nie welkom in Suid-Afrika nie. Ek het nie eens besef dat hy nou permanent in die land is nie.”

Louise Joubert, ’n stigterstrustee van die Sanwild Wildlife Trust, ’n organisasie wat mishandelde wilde diere rehabiliteer, is ook krities oor Busch se bewaringsplanne. “Geen wildreservaat sal hokgeteelde diere aanhou nie. Dit is ook onnatuurlik om wilde diere mak te maak.”

Sy is ook krities oor die departement van natuurbewaring wat “links en regs” permitte uitreik vir die aanhou van leeus aan mense wat die diere vir kommersiële gewin mak maak.

Busch stem nie saam dat hy diere mak maak nie.

“Jy kan nie ’n leeu tem nie, maar jy kan sy vriend word.”

Op sy plaas, ook Jabula, waar Rapport hom besoek het, hou hy agt katte aan: vier leeus, twee tiere en twee jagluiperds.

Hy sê hy is besig om ’n lodge vir besoekers te bou.

Busch sê ook hy is besig om nog ’n reeks op te neem wat in April op Animal Planet uitgesaai gaan word.

Rapport het ’n voorskou van dié reeks gesien en daarvolgens lyk dit of Busch nou ook by renosterbewaring betrokke is.

In een toneel – wat lyk of dit spesiaal vir die kameras opgestel is – laat hy ’n paar renosterstropers aan die pen ry.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.