Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Meer aasvoëls raak verlam
Jonges kry nie genoeg kalsium
Een van die aasvoëls wat by VulPro behandel word, word in ’n slinger gesit totdat sy swak bene weer sy liggaamsgewig kan dra. Foto: Kerri Wolter
Een van die lam “pasiënte”.

Hulle hang in sakke en is heeltemal afhanklik van mense. Dit is vermoedelik weens ’n kal­sium- tekort wat veroorsaak word deur loodvergifting of omdat te min roofdiere hul prooi se bene breek.

Net die afgelope twee weke het VulPro, ’n aasvoëlbewaringsprogram naby Hartbeespoortdam met Kerri Wolter aan die stuur, weer agt noodgevalle van lam aasvoëls gekry. Dit is ’n drastiese toename.

“Gewoonlik kry ons een of twee aasvoëls met soortgelyke probleme per jaar in. Hierdie jaar was daar ’n geweldige toename,” het sy gesê.

Sy en haar span vermoed die skielike swakheid, veral onder aasvoëlkuikens en -jongelinge, word deur kalsiumtekorte veroorsaak, in sommige gevalle weens loodvergifting.

Dikwels vreet dié voëls aan karkasse van diere wat doodgeskiet is. Die koeëls word nie verwyder nie, of van die koeël se fragmente vergif die karkas.

“Loodvergifting belemmer aasvoëls, veral jonges, se vermoë om kalsium te absorbeer,” het Wolter verduidelik.

VulPro het die laaste tyd sulke noodgevalle van tot selfs Botswana ingekry.

“Dit is opmerklik dat ons nie enige gevalle uit KwaZulu Natal het nie waar jag met loodkoeëls gereguleer word,” het sy gesê.

Nog ’n kalsium-verwante oorsaak van die skielike probleem onder die aasvoëls is die afname in roofdiere – veral weens hul krimpende natuurlike habitat.

“Roofdiere splinter karkasse se bene. Volwasse aasvoëls moet hierdie beenfragmente vir hul kuikens voer sodat hulle genoeg kalsium kan inkry. Omdat die getal roofdiere afneem, neem die voorraad kos en beenfragmente vir aasvoëls af,” het sy gesê. Die gevolg: volwasse aasvoëls en -kuikens wat skielik lam raak.

VulPro sit die voëlpasiënte wat die ergste aangetas is, in ’n soort “slinger” totdat hul bene weer hul liggaamsmassa kan hanteer.

“Die voëls kan gered en gerehabiliteer en in die meeste gevalle weer vrygelaat word – mits hulle hulp kry,” het Wolter gesê.

Mense wat op siek of verlamde aasvoëls afkom, moet VulPro eers bel voordat hulle self die voëls probeer red.

■ VulPro se kontakbesonderhede: Kerri Wolter by 082 808 5113, kerri.wolter@gmail.com of Walter Neser by 076 593 9849 of wneser@gmail.com

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.