Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Olifantvel kan Hope dalk help
Sag én sterk om neuswond te beskerm

Hope, die renosterkoei van Jeffreysbaai wat ’n stroperaanslag wonderbaarlik oorleef het, sal moontlik vandag die tweede renoster word wat ’n stuk olifantvel oor haar oopgekapte sinusholtes kry.

Verlede week het ’n gestroopte renoster van KwaZulu-Natal, ­iThemba, wat in Xhosa ook “hoop” beteken, die eerste renoster geword wat ’n stuk olifantvel as ’n “pleister” oor haar gapende neuswond gekry het.

“Dit is nog in die toetsfase, maar sover blyk die olifantvel sag te wees, maar tog genoeg weerstand te bied om die rou wond te beskerm,” het dr. Johan Marais van die Universiteit van Pretoria se fakulteit veeartsenykunde by Onderstepoort gesê.

Marais het die operasie saam met sy kollega dr. Gerhard Steenkamp gedoen.

Vandag moet Steenkamp ’n besluit neem oor Hope, wat vroeër vanjaar in die Lombardini-natuur­­reservaat naby Jeffreysbaai onder stropers deurgeloop het.

“Daar is net twee opsies: Gebruik weer ’n rubberbeskermingsplaat, soos die afgelope tyd op Hope gebruik is, óf probeer die olifantvel,” het Marais gesê.

iThemba, wat die olifantvel al ’n week lank oor haar wond dra, toon volgens Marais goeie vordering.

In die hoop dat iets uiteindelik gekry is wat die hele neuswond van ’n gestroopte renoster kan bedek en beskerm, het ­Marais Donderdagoggend ’n stuk van die olifantvel vir Hope gesny.

Die betrokke olifant is aan natuurlike oorsake dood.

Volgens Marais het hulle lank na ’n alternatief gesoek om die wonde van renosters te bedek.

“Die rubberplaat vorm nie saam met die wond nie, en kieme kan inkom.”

Ná maande van navorsing en raadpleging, wat Marais en sy span selfs by die weermagbasis vir raad laat aanklop het, was die antwoord dalk reg onder hul neus.

Aanvanklik is koedoevel getoets. “Ag nee wat, ’n stuk draad skeur sommer maklik uit die 1 cm dik vel. Dit sou nie werk nie.”

Volgende op die lys was seekoeivel.

“Maar seekoeivel is só hard, ek kry nie eens ’n stuk draad deurgedruk nie.”

Olifantvel was nie werklik ’n opsie vir Marais nie, aangesien dit dieselfde dikte as ’n koedoevel is. Uit “pure desperaatheid” het hy toe tog ’n stuk draad op die vel getoets.

“Die draad het ingesteek, maar ek kon die draad nie uitskeur nie, en toe wéét ek,” het Marais opgewonde gesê.

Olifantsvel om ’n groeibed van waar die renosterhoring eens was, te bedek. Hope, die renoster wat vroeër vanjaar ’n aanslag van stropers oorleef het, sal vandag moontlik die tweede renoster word om ’n olifantsvel oor haar wond
Hope, die renoster wat vroeër vanjaar ’n stroperaanslag oorleef het, sal vandag moontlik die tweede renoster word waarvan die gapende neuswond deur olifantvel bedek sal word. Foto: Facebook
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.