Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Ollies se gedrag, getalle só beheer
Bulle kry halsbande en koeie ‘Die Pil’
’n Olifantbul in die Dinokeng-wildreservaat word met ’n pylgeweer geskiet sodat sy satelliet-opsporingshalsband geruil kan word. Dié kolos moes eers uit die rivierbedding gelei word. Foto's: Theane Breugem
Op dié foto wys JJ van Altena, ’n spesialis in die toedien van immuno-voorbehoedmiddels, hoe hy die pylgeweer met die middel laai.
Op dié foto wys JJ van Altena, ’n spesialis in die toedien van immuno-voorbehoedmiddels, hoe hy die pylgeweer met die middel laai.

Twee bulle van die enigste wilde olifanttrop in Gauteng het nuwe satelliet-opsporingshalsbande gekry.

Die Humane Society Interna­tional (HSI) het verlede week die twee bulle in die Dinokeng-wildreservaat, noord van Pretoria, se halsbande geruil en vier koeie met ’n immuun-voorbehoedmiddel ingeënt as deel van hul olifantbestuurprojek in die reservaat.

“Die een bul is geneig om deur heinings te breek en daarom moet sy bewegings gemonitor word. Ons het al die stoute olifante gekry,” skerts Tim Higgs, ’n Dinokeng-veldwagter.

Die olifantteeltrop is in 2011 uit die Makalali-wildreservaat in Limpopo na Dinokeng gebring.

Die bulle word eers uit ’n helikopter met ’n verdowingsmiddel geskiet. Daarna kan die veldwagters en veearts dit nader waag om die halsband te ruil en antibiotika toe te dien.

’n Veldwagter maak deurgaans seker die bul se slurp bly oop sodat hy kan asemhaal, want olifante kan nie deur hul bekke asemhaal nie. Ander maak die massiewe ore met water nat gedurende die prosedure.

Wanneer die nuwe halsband vas is, dien die span ’n middel toe om die bul wakker te maak en kies vinnig die hasepad.

JJ van Altena, ’n spesialis in die toedien van immuun-voorbehoeding, en sy span het eers die koeie met ’n pylgeweer met die voorbehoedmiddels geskiet voordat die soektog na die bulle begin is.

“Ons dien die koeie se inentings toe met ’n pylgeweer uit ’n helikopter, want dit plaas minder druk op hulle en ons hoef hulle nie te verdoof nie,” sê Van Altena.

Immuun-voorbehoeding word reeds 14 jaar lank suksesvol gedoen. Dit is ’n veilige, nie-hormonale metode wat 90% suksesvol is.

Die koeie kry elke jaar ’n aanvuller en sodra dit nie meer toegedien word nie, is die uitwerking daarvan ten volle omkeerbaar.

“Dis nodig om die olifante se getalle te beheer sodat die drakrag van die reservaat nie oorskry word nie. Vier koeie word behandel, maar ander koeie in die trop wat nie behandel is nie, kalf nog. Ons dien ’n kleurstof saam met die middel toe sodat ons kan sien watter koeie behandel is,” sê Audrey Delsink, ’n olifant-ekoloog.

Sy verduidelik die voorbehoedmiddels word uit vark-eierstokke vervaardig.

“Dit verhoog die produksie van teenliggame, wat veroorsaak dat die reseptorselle rondom die eiersel in so ’n mate verander dat die spermsel nie die eiersel kan binnedring om dit te bevrug nie.”

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.