Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Oplossing gesoek vir siekte wat broodbome laat vrek
Rofhiwa Nesamari hou van die plantpatogene vas wat broodbome laat doodgaan. Sy sal die boompies agter haar daarmee besmet om die siekte aan die Universiteit van Pretoria se Bosbou- en Landbou-biotegnologie-instituut (Fabi) te bestudeer.Foto: Elsab&ea

’n Plantpatogeen waarvan die spore selfs onder water kan “swem”, val broodbome in Suid-Afrika aan.

Dr. Wilhelm de Beer van die Universiteit van Pretoria se Bosbou- en Landbou-biotegnologie-instituut (Fabi) het gesê dié patogeen (Phytophthora) is nie ’n swam nie, maar ’n oomiesiet of waterskimmel. Dit was tot onlangs nie op Suid-Afrika se broodbome nie, maar is nou ook hier opgemerk en daar is nog geen oplossing gevind om dit te bestry nie.

Rofhiwa Nesamari, ’n meestersgraadstudent by Fabi, bestudeer nou spesifiek dié plantpatogeen se uitwerking op broodbome om ’n oplossing te probeer kry. “Daar is nog baie min oor die siekte op broodbome in Suid-Afrika gedoen,” het sy gesê.

Daar is altesaam 29 inheemse broodbome, maar 36 groei hier.

“Ons sien op die paar plekke waar hulle nog natuurlik voorkom dat dié wilde plante vrek. Omdat dit droër raak weens klimaatsverandering, plaas dit die plante onder stres en dan is hulle meer vatbaar vir dié patogeen,” het Nesamari gesê. Dit is ook al aangetref op geteelde broodbome, soos dié wat mense versamel.

Nesamari het monsters gaan versamel in die Vaalberg, Soutpansberg en in die Modjadji-gebied in Venda in Limpopo waar broodbome nog natuurlik voorkom. Die patogeen val die plant se wortels aan en laat dit van binne vrot, die blare word geel en die plant vrek. Sy besmet gesonde plantjies met die patogeen en bestudeer dit in ’n poging om ’n oplossing te vind.

■ Die Wes-Kaapse polisie het gister bevestig niemand is nog in hegtenis geneem nadat diewe meer as twee maande gelede twee keer in die Kirstenbosch Botaniese Tuin toegeslaan en altesaam 21 uiters bedreigde broodbome gesteel het nie.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.