Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Siek honde glo gestuur vir teling
Steek talle diere op plaas aan
Een van die schnauzers wat van ’n teelplaas by Ermelo gered is. Foto: Hoëveld-DBV
Een van die hokkies waarin die schnauzers glo op Elmarie Cillier se teelplaas geslaap het. Foto: Hoëveld-DBV

Die schnauzer-teler van Ermelo het nie net na bewering haar honde in skokkende omstandighede aangehou nie, maar ook siek honde na ’n ander teler gestuur wat op kontrak vir haar honde moes teel.

Dit het veroorsaak dat dié groot geldelike verliese gely het.

Beeld het vroeër berig oor ­Elmarie Cillier, wat blykbaar siek schnauzers aan mense verkoop het. Sy het die honde teen tussen R5 500 en R7 500 verkoop.

Die Hoëveld-Dierebeskermingsvereniging (DBV) het meer as ’n week gelede 76  schnauzers uit haglike omstandighede op Cillier se teelplaas gered.

Een van haar kontraktelers van Middelburg het gesê sy is besig om regstappe teen Cillier te doen omdat sy ’n aardige bedrag geld verloor het.

Die teler, wat verkies om anoniem te bly, het gesê Cillier het doelbewus siek honde met die dodelike en aansteeklike Parvo-virus na haar plaas gestuur.

“Ek het aanvanklik ’n schnauzer by Cillier gekoop. Sy het gesê as my hond kleintjies kry, sal sy hulle by my koop.

“Ek het my siel aan die duiwel verkoop. Ons het ooreengekom dat ek twee van my hond se drie kleintjies mag hou as ek in die toekoms die ander kleintjies aan haar verkoop.

“Ek het later besluit om my kleintjies op my plaas te hou, want Cillier het die honde sleg behandel en in haglike omstandighede laat lewe.”

Die vrou het gesê Cillier het haar in Maart gekontak en gevra om haar met twee honde te help. “Sy wou hê ek moes honde vir haar mak maak. Sy het geweet die honde het die Parvo-virus, maar het hulle doelbewus vir my gegee.

“Toe die honde op my plaas aankom, was hulle in ’n slegte toestand. Hulle was vol vlooie, het ooginfeksie gehad en hul ontlasting was vol wurms. Hul ontlasting was ook loperig.

“Sedert die honde op my plaas aangekom het, is 20 honde op my plaas aangesteek. 11 is dood en ons kon nege red.

“Ek het Cillier oor die siek honde ingelig. Sy het gesê ek moet hulle van kant laat maak.”

Die kontrakteler se plaas is onder kwarantyn geplaas.

“Ek sit met meer as 70 honde op my plaas. Ek kan hulle nie verkoop nie, want van hulle is dalk siek.

Ek moet die veearts nou betaal én vir die hondjies sorg. Cillier het intussen spoorloos verdwyn.”

Beeld het Cillier probeer kontak, maar kon haar nie vir kommentaar bereik nie.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.