Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Skaliegas: Staat wil 20% vat

Eksplorasie vir hidro­breking in die Karoo staan voor nóg ’n hindernis omdat groot oliemaatskappye ongelukkig is met die voorstelle dat hulle 20% van hul produksieregte aan die staat moet afstaan.

Terwyl die regering die afgelope week uiteindelik sy moratorium op die verwerking en uitreiking van nuwe permitte vir skaliegas-eksplorasie in die Karoo gelig het, dreig selfs maatskappye wat reeds toestemming het om na gas te soek om hul planne te laat vaar.

Rapport verneem betroubaar dat oliemaatskappye tans agter die skerms onderhandel om die regering te oorreed om af te sien van sy wysigingswetsontwerp ingevolge waarvan die staat ’n belang van 20% in alle pro­spekteer- en produksieregte kan kry en later selfs maatskappye se regte kan uitkoop.

“Die verpligte 10%-bemagtigingsbelang wat ook deur die wysigings aan die Wet op die Ontwikkeling van Minerale- en Petroleumhulpbronne (MPRDA) opgeskuif word tot 26%, is ook vir hulle ’n kopseer,” sê ’n betroubare bron.

“Dit is duidelik dat voornemende prospekteerders nie bereid is om miljarde rande aan die eksplorasie van hidrobreking te bestee nie, net om te sien dat dit deur die staat oorgeneem word,” sê Rob Jeffreys, ’n ekonoom van Econometrix. Jeffreys het die opheffing van die morato­rium op die uitreiking van nuwe eksplorasie-permitte verwelkom, maar sê die staat se voorneme om ’n 20%-aandeel in alle projekte te besit, skrik beleggers af. Volgens hom sal dit rampspoedig wees as die regering nie die onsekerhede oor eienaarskap pak nie en beleggers nie verder belangstel om vir skaliegas te eks­ploreer nie.

“Selfs al sou skaliegasreserwes in die Karoo minder as 10% van ramings wees, sal die ontwikkeling daarvan steeds gelykstaande aan sowat 40 Mossgas-projekte wees. Jacob Zuma is reg wanneer hy sê die ontdekking van skaliegas in die Karoo sal ’n game changer wees.

“Dit sal ’n uiters belangrike rol speel om ’n oplossing te vind vir Suid-Afrika se gebrek aan energiebronne en ’n tekort aan krag. Dit sal die land jaarliks miljarde rande bespaar aan buitelandse valuta, wat andersins bestee sou moes word aan die invoer van dié produkte,” sê hy.

Maatskappye wat bereid is om eksplorasiewerk te doen, vat ’n groot kans. Daar is geen sekerheid of daar skaliegas in die Karoo is nie en dit is duidelik dat die produksiekoste hoog gaan wees.

Die oliereuse Shell en Chevron en Challenger Energy, ’n Australiese energiemaatskappy, is almal deel van konsortiums wat reeds lisensies verkry het om eksplorasiewerk te doen.

Wlady Altermann, professor in geodinamika aan die Universiteit van Pretoria, sê selfs al word baie skaliegas in die Karoo ontdek, gaan dit baie duurder wees om dit te ontgin as in plekke soos die VSA en Kanada.

“Maatskappye wat bereid is om eksplorasiewerk te doen, vat ’n groot kans. Daar is geen sekerheid of daar skaliegas in die Karoo is nie en dit is duidelik dat die produksiekoste hoog gaan wees.”

Altermann verduidelik die Karoo is ondergronds soos ’n rots met duisende sakke. Dit beteken daar moet duisende male in die “rots” ingeboor word om die gas vry te stel.

“Dit kan hidrobreking in die Karoo baie duur maak,” sê Altermann.

Saliem Fakir van die Wêreldnatuurfonds (WWF) in Suid-Afrika sê hul navorsing toon ook dat skaliegasontginning in die Karoo nie ekonomies lewensvatbaar is nie.

Dineo Pooe, woordvoerder van Shell, sê dié oliemaatskappy is tans in sy geslote periode waartydens direkteure nie hul aandele mag verhandel nie en dat sy daarom nie kommentaar kan lewer nie.

Chevron en Challenger Energy het nie op Rapport se navrae gereageer nie.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.