Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Skaliegas in Karoo kan ANC miljarde besorg
Ons sal die nodige stappe doen om deursigtigheid van en aanspreeklikheid vir hierdie kwessie te verseker, al moet ons hof toe gaan.
Jeanie le Roux, bedryfsbestuurder van TKAG

Die ANC kan deur sy beleggingsvleuel die Batho Batho-trust miljarde rande in sy sak steek as Shell daarin slaag om met die ontginning van skaliegas in die Karoo te begin.

Dié trust het ’n aandeel van 51% in Thebe Beleggings, wat sy aandeelhouding in Shell SA pas tot 28% opgestoot het.

Jonathan Deal, uitvoerende hoof van Treasure the Karoo ­Action Group (TKAG), het gister gesê dit is onaanvaarbaar dat die ANC-regering wat nou oor die toekoms van skaliegasontginning in die Karoo moet besluit, indirek aandele in een van die maatskappye in die wedloop het.

“Die ANC het homself nou prakties in die posisie geplaas waar hy sowel ’n speler as die skeidsregter in die wedstryd is.”

Sen Mdluli, woordvoerder van Thebe Beleggings, het gister bevestig dié maatskappy het sy aandeelhouding in Shell SA onlangs opgestoot.

Business Day het verlede week berig dat Shell SA nou volgens ’n kenner die grootste belegging in Thebe se portefeulje is.

Jeanie le Roux, bedryfsbestuurder van TKAG, beskou die trust se jongste besluit as kommerwekkend.

Dié belangebotsing is reeds in 2012 uitgewys toe dit aan die lig gekom het dat die ANC ’n beduidende getal aandele in Shell het, het Le Roux gesê.

Die DA het in 2013 ’n beroep op die trust gedoen om sy aandeelhouding van 51% in Thebe Beleggings te laat vaar. Thebe Beleggings is Shell SA se swartbemagtigingsvennoot.

Volgens Le Roux het dit nie gebeur nie en is die ANC se aandeelhouding in Shell vergroot kort voordat die regering ’n besluit oor die toekoms van skaliegasontginning moet neem. Sy het dié stap as “uiters verdag” bestempel.

“Ons sal die nodige stappe doen om deursigtigheid van en aanspreeklikheid vir hierdie kwessie te verseker, al moet ons hof toe gaan.”

Julius Kleynhans, AfriForum se hoof van omgewingsake, het gesê die belangebotsing is ’n absolute miskenning van die beginsels van die Grondwet en goeie regering. “As daar enige teken van korrupsie of wanbestuur is, sal ons dit blootlê en seker maak die regte mense word aanspreeklik gehou.”

Bonang Mohale, voorsitter van Shell SA, was nie gister vir kommentaar beskikbaar nie.

Hy het vroeër aan Business Day gesê: “Die netto batewaarde van hierdie entiteit sal miljarde beloop. Thebe se belang sal ook miljarde beloop.

“Thebe sal in die toekoms betrokke moet wees by alles wat Shell SA in Suid-Afrika doen.”

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.