Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Hoës se rol onthul
Stropery: Koerier praat uit
SA politici, hoës in polisie en ‘Chinese mafia’ glo deel van renostersindikate
188

’n Prokureur van Johannesburg het Donderdagoggend in sy voorlegging aan die paneel wat die handel in renosterstropery ondersoek, gesê “ministers en mense hoog op in die rangorde” wat probeer om renosterstropery te bekamp moet leuenverklikkertoetse aflê om hul eerlikheid te bewys, het Elise Tempelhoff berig.

Chris Bean het aan die departement van omgewingsake se paneel van 22 kundiges gesê korrupsie staan in die pad van alle pogings om renosterstropery te bestry. Hy sê alle mense in sensitiewe poste en wat by die stryd teen renosterstropery betrokke is, behoort elke ses weke aan ’n leuenverklikkertoets onderwerp te word. Vroeër vandeesmaand is berig sedert die begin van die jaar is 188 renosters reeds gestroop. Dié syfer is nie-amptelik. 

HOOGGEPLAASTE polisiebeamptes en politici in Suid-Afrika is deel van die renostersindikate waarby die “Chinese mafia” glo ook betrokke is.

Dít is volgens ’n bron betrokke by horing-smokkelary wat aan Volksblad gesê het hy vervoer al die afgelope vier jaar renosterhorings vir Chinese van Nelspruit af na Pretoria.

Hy het selfs ’n lys met telefoonnommers verskaf van mense wat by die sindikate betrokke is. Dit word nou deur Volksblad gebruik om verder ondersoek in te stel.

Die bron, wat verkies om anoniem te bly, vrees vir sy lewe sou sy “werkgewers” uitvind hy praat met die media.

Volgens hom is hy al verskeie kere na die polisie met inligting oor renosterstropery, maar niks het daarvan gekom nie.

Hy vermoed sekere hooggeplaaste werknemers in die polisie, en selfs politici, verhinder dat dit verder ondersoek word, omdat hulle self deel van die sindikate is.

Die man word deur die betrokke Chinese burgers gebel wanneer hy vir hulle renosterhoring moet vervoer.

Hy het net verlede week nog so ’n rit onderneem.

’n Vlieg- of buskaartjie na Nelspruit word vir hom gekoop. Sodra hy daar aankom, word ’n voertuig waarin renosterhorings of renosterhoringpoeier reeds gelaai is, aan hom verskaf, waarmee hy dan na Pretoria vertrek.

Hy kry ook ’n selfoon waarvan die luidspreker die hele rit lank aan moet wees.

Wanneer hy naby sy bestemming kom, word hy van die pad getrek.

Ander lede van die betrokke sindikaat ry dan met die voertuig en die renosterhoring weg. Hy word met die ander voertuig na ’n Chinese winkel gebring.

Later word hy by die lughawe of busterminus afgelaai.

Hy sê die renosterhoring word in duursame voertuie soos ’n Range Rover of Mercedes-Benz E-klas vervoer.

Renosterhoringpoeier word in die voertuig se noodwiel versteek.

Renosterhorings word in ’n boks verpak wat saam met ander artikels soos opvoustoele en sonsambrele in die voertuig se bagasieruim of op die agtersitplek gelaai word.

Die man kry ook ’n petrolkaart en sowat R6 000 kontant.

“Die geld is om ’n polisieman om te koop indien ek te vinnig ry of wanneer ’n band bars.

“Ek is al so een of twee keer in ’n padversperring afgetrek, maar die polisie het niks agtergekom nie.”

Hy is ook al gevra om in Drie Susters te wag en kyk of ’n ander koerier van renosterhoring (wat die roete uit die Oos-Kaap volg) betyds verbykom en dan die sindikaatbase te laat weet.

Die bron word gewoonlik tussen R20 000 en R30 000 vir ’n rit belowe, maar die betrokke Chinese het hom ingedoen.

“Hulle skuld my R750 000.”

Hy sê hy het geen familielede nie en is terminaal siek.

Sy gewete pla hom en daarom lek hy die inligting aan die media. “Ek het die verkeerde keuses uitgeoefen.”

Hy sê lede van die sindate doen hulle soms as toeriste voor en besoek wildplase oor Suid-Afrika heen om te kyk of daar renosters is. Renosters word op dié plase en in die Krugerwildtuin gestroop.

Hy sê sommige stropers “pyl” net renosters, terwyl ander hulle met hoëkaliber-vuurwapens soos AK47’s en ’n .308 skiet.

Volgens hom vorm ’n helikopter byna altyd deel van dié strooptogte, wat gewoonlik deur tot vyf mense uitgevoer kan word.

Sommige stropers is volgens hom oudsoldate uit Mosambiek.

“Die ouens is professioneel. Hulle is nie skollies nie.”

Hy sê die sindikate se netwerk is baie groot en strek tot in China en Viëtnam. Die “Chinese mafia” vertolk volgens hom ’n kernrol in die onwettige handel in renosterhoring. 

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.