Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Renoster geopereer
Trane toe Hope tweede plaat kry
Ontblote sinusholtes beskerm
Hope, gestroopte renosterkoei van die Lombardini-natuurreservaat buite Jeffreysbaai, het vier dae in die bosse oorleef voor sy gevind is. Afgelope week het dr. Gerhard Steenkamp, ’n chirurg en wildveearts van Onderstepoort gesê Hope is bu

PORT ELIZABETH. – Die trane het gevloei toe ’n tweede beskermende plaat oor Hope se gapende wond, waar renosterhoring én horingbed eens was, vasgeboor is.

Dit is bykans twee weke sedert Hope, renosterkoei van die Lombardini-natuurreservaat buite Jeffreysbaai, se horings wreedaardig gestroop en sy vir dood agtergelaat is. Nog drie renosters van dieselfde reservaat het die aanslag nie oorleef nie.

Hope is vier dae ná die aanslag met oopgekapte sinusholtes in die bosse van die natuurreservaat aangetref en na die Shamwari-natuurreservaat vir behandeling geneem.

Kort hierna het sy die eerste beskermende plaat oor haar neus gekry om infeksie van die wond te help keer.

Maar dié plaat het Hope, wat van meet af ’n ysere wil getoon het om te oorleef, só geïrriteer dat sy dit teen bome en pale bly stamp het tot dit gedisintegreer het.

“Dié keer hoop ons die tweede neusplaat sal vier weke hou, maar ons sal tevrede wees met net twee weke,” het dr. Gerhard Steenkamp, ’n chirurg en wildveearts van Onderstepoort, gesê.

Steenkamp het Maandag dooie been uit Hope se wond gesny en ’n tweede neusplaat aan ’n gesonde stuk been met staalskroewe vasgemaak.

“Die neusplaat sal Hope se sinusholtes moet beskerm,” het Steenkamp verduidelik.

Baie van die behandeling wat Hope nou ontvang, is geskoei op die mediese kennis wat hulle opgedoen het met die behandeling van Thandi die renosterkoei wat ook met oop sinusholtes moes saamleef nadat stropers haar in 2012 in die Kariega-natuurreservaat vermink het.

Hope se wonde is veel erger as dié van Thandi s’n destyds, het Steenkamp benadruk. “Maar ná afloop van die tweede operasie kan ek met sekerheid sê: “Hope sal oorleef.”

Ondanks sy 17 jaar ervaring in die veld, sukkel hy om sy emosies in bedwang te hou wanneer hy met verminkte diere soos Thandi en Hope werk, het Steenkamp oor sy trane beken.

“Omdat ons altyd teen tyd werk met narkose, kan ek gelukkig nie op my emosies fokus nie, maar eerder om so gou as moontlik planne te beraam om die doel te bereik,” het hy gesê.

Vir Susan Lottering, mede-eienaar van die Lombardini-natuurreservaat wat tydens die operasie bystand verleen het, was dit effens moeiliker om haar emosies te beheer.

“Ek kon nie ophou dink wat deur Hope se gedagtes moet vlieg nie. Hier is die spesie wat haar gesig vermink het, en nou help dieselfde spesie haar om gesond te word.”

Lottering sê verder sy het tydens die duur van die drie uur lange operasie besef Hope het die gene van haar ma geërf.

“Dit het niks minder nie as agt sterk mans gevat om Hope se ma, ná twee verdowingspyle, met toue plat te trek toe ons haar onlangs saam met die ander oorblywende renosters onthoring het.

“Hope het Maandag dieselfde krag as haar ma getoon – sy is ’n vegter.”

■ Hope se operasie vandeesweek het volgens Steenkamp tussen R30 000 en R40 000 gekos. Vir meer inligting oor hoe om ’n bydrae te maak, ­besoek ​savingthesurvivors.co.za.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.