Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Voëls se effek op fynbos bekyk
Só lyk een van die ses hokke in die Jonkershoek-natuurreservaat wat deur die Universiteit Stellenbosch opgerig is om ’n wêreld sonder voëls te simuleer om te sien wat die uitwerking op die ekologie is. Foto: US

KAAPSTAD. – Wat sal met fynbos gebeur as daar ’n wêreld sonder voëls is?

Die effek daarvan, veral op die fynbos, gaan nou vir drie jaar lank in die Jonkershoek-natuurreservaat bestudeer word nadat ses hokke van 400 m² op plekke aangebring is. Dié hokke sal alle voëls uithou.

Prof. Anton Pauw, evolusionêre ekoloog aan die Universiteit Stellenbosch, het gesê die wêreldwye afname in bestuiwers noodsaak hulle om navorsing te doen oor hoe plante en diere sal reageer as dié belangrike bestuiwers uit die ekosisteem verwyder word.

So wat sal gebeur? “Dit is iets wat ons nou gaan toets . . . ons het nie ’n idee nie. Maak voëls saak, of nie?” het hy gevra.

Suikervoëls bestuif veral proteas en hoewel daar net vier spesies nektarvretende ­voëls in die Kaap voorkom, bestuif hulle 350 plantspesies.

Pieter Botha, ’n meestersgraadstudent, is ook betrokke by die projek. Hy vergelyk ook die saadproduksie van die plante binne en buite die hokke.

“Ons het reeds gesien dat die speldekussings in die hokke meer nektar het as dié wat in die ander gebiede voorkom en aktief deur voëls besoek word vir kos. In sommige gevalle het ons ook waargeneem dat meer miere die speldekussings binne die hokke besoek,” het Botha gesê. Daar word ook gekyk of meer blaarvretende insekte voorkom omdat voëls elke dag honderde vreet.

“Dit is ook glad nie duidelik tot watter mate plante op hul eie verdedigingsmeganismes, soos die produksie van tanniene, staatmaak om hulle teen blaarvretende insekte te beskerm of tot watter mate hulle staatmaak op roofdiere soos voëls om as hul lyfwagte op te tree nie,” het Pauw verduidelik.

Ná drie jaar sal die veld afgebrand word, aangesien natuurlike brande ontkieming van die meeste fynbosplante aanhelp.

Pauw het gesê indien die gebrek aan voëls ’n beduidende afname in saadproduksie veroorsaak het, verwag hulle om te sien dat die nuwe veld eerder oorheers sal word deur plante wat deur middel van insekte en die wind bestuif word. Dit sluit veral indringers in.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.