Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Aardbewing: Bly kalm, nog naskokke kan Kaap tref

Kaapstad en omstreke kan nog naskokke ervaar nadat daar die naweek binne 12 uur twee aardskuddings gevoel is.

Daar word egter nie verwag dat dit katastrofies sal wees nie.

Koeberg se skokbrekers

Die Wes-Kaapse regering het in reaksie inwoners ook daaraan herinner dat die Koeberg-kernkragstasie by Kaapstad op “skokbrekers” gebou is wat seismiese aktiwiteite kan weerstaan.

Bly kalm

’n Beroep vir kalmte is gedoen.

Die provinsiale regering sê die provinsie het 160 hoogs opgeleide soek-en-reddingsbeamptes wat gereed is om op kort kennisgewing te help, indien ’n massiewe ramp sou plaasvind.

Volgens dr. David Khoza, uitvoerende bestuurder: toegepaste geowetenskap by die Raad vir Geowetenskappe (CGS), is dit heeltemal normaal dat aardbewings deur nog aardbewings of naskokke gevolg word.

Hy sê hoewel verskeie klein aardbewings elke jaar in Suid-Afrika voorkom, is dit hoofsaaklik weens mynbedrywighede. Danksy die land se ligging spring dit meestal ernstige aardbewings vry.

aardtrillings, kaapstad

’n Aardbewing van 6,2 het Saterdagaand omstreeks 19:10 teen ’n diepte van 10 km sowat 1 600 km suidoos van Kaapstad in die see plaasgevind.

Hoewel vroeër bespiegel is dat dié aardbewing verantwoordelik was vir die skudding wat inwoners van dele van Kaapstad later die aand gevoel het, sê Khoza dit wat Kapenaars gevoel het, was eintlik nog ’n aardbewing van 2,5 wat Saterdagaand omstreeks 20:41 sowat 6 km noord van Durbanville plaasgevind het.

Mense in Milnerton en Durbanville het op sosiale media gesê die skudding het soos donderweer geklink en dat huise ’n paar sekondes lank erg geskud het.

Sondagoggend omstreeks 09:12 het die aarde weer vir enkele sekondes in dele van Kaapstad geskud. Khoza sê dié skudding het 2,3 gemeet.

Wetenskaplikes ondersoek nog die jongste skudding om vas te stel of dit ’n nuwe aardbewing of slegs ’n naskok van Saterdagaand se aardbewing is.

Die diepte van die aardbewing moet nog bepaal word, maar Khoza sê die aanvanklike inligting dui daarop dat dit ’n vlak skudding was wat geen skade aangerig het nie.

So werk 'n aardbewing

Dave Pepler, ’n ekoloog, het Sondag verduidelik aardbewings kom voor wanneer tektoniese plate oor mekaar skuif, terwyl kontinente langs sogenaamde verskuiwingslyne beweeg.

“Soos een plaat onder ’n ander plaat inskuif, smelt die voorpunt en word weer deel van magma, met ander woorde gesmelte rots.

“Maar soms verloop die verskuiwing nie glad nie en die twee plate haak vas. Dan kom dit onder ondenkbare druk en iets moet meegee. Wanneer dit meegee, ervaar ons ’n aardbewing.”

Ná só ’n geval kom ’n paar “stuiptrekkings” voor wat ’n paar naskokke kan veroorsaak wat gewoonlik heelwat kleiner is as die oorspronklike skudding. Sulke naskokke kan selfs tot drie dae later ervaar word.

Suid-Afrika kry oor die algemeen nie groot aardbewings nie, maar wel kleiner aardbewings van sowat 2, wat gereeld gemeet word.

Hy sê aardbewings in Suid-Afrika is meestal nie gevaarlik nie, in teenstelling met dié in die Midde-Ooste en die sogenaamde “Ring van Vuur” in die Stille Oseaan.

Khoza sê afhangend van die geologie, kan trillings naby of ver om die episentrum van ’n aardbewing gevoel word.

Inwoners het berig die skuddings is in Kuilsrivier, Parklands, Melkbosstrand, Durbanville en Milnerton gevoel, terwyl inwoners van die nabygeleë Mitchells Plain van geen sout of water geweet het nie.

Khoza sê Suid-Afrika is geleë op ’n stabiele vasteland wat nie veel beweeg nie.

Tog is daar wel ’n “netwerk van verskuiwingslyne” in die Wes-Kaap, maar Khoza sê dit sou Sondag nog ’n paar uur duur voordat vasgestel kan word watter een die aardbewing veroorsaak het.

“Ons moet wyd ondersoek instel. In die Wes-Kaap was daar voorheen groot gevalle, maar ons moet nog vasstel watter verskuiwingslyn hier betrokke was.”

In September 1969 is ’n aardbewing van 6,3 in Tulbagh in die Wes-Kaap gemeet.

“Suid-Afrika kry oor die algemeen nie groot aardbewings nie, maar wel kleiner aardbewings van sowat 2, wat gereeld gemeet word.

“Maar omdat gisteraand (Saterdagaand) se aardbewing deur soveel mense gevoel is, was die reaksie baie groter op dié een.”

Suider-Afrika is op ’n baie stabiele verskuiwingslyn. Dit beteken dat ons risiko vir aardbewings en tsoenami’s baie laag is.

Geen rede tot paniek

Anton Bredell, Wes-Kaapse LUR vir plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, het Sondag in ’n verklaring bevestig Suid-Afrika is op ’n stabiele verskuiwingslyn geleë en gesê die onlangse seismiese aktiwiteite is geen rede tot paniek nie. Hy sê die situasie word saam met die CGS gemonitor.

“Suider-Afrika is op ’n baie stabiele verskuiwingslyn. Dit beteken dat ons risiko vir aardbewings en tsoenami’s baie laag is.

“Hoewel daar altyd ’n seismiese risiko is, glo ons nie daar bestaan ’n werklike bedreiging vir ’n mega-aardbewing van 7 in die Wes-Kaap nie.

“Daar moet ook in gedagte gehou word dat ’n aardbewing wat 7 meet 33 keer sterker as ’n 6 geag word.”

Oor die afgelope tien jaar het die Wes-Kaapse regering ook ’n ramp-reaksie-stelsel op die been gebring. Deel van dié stelsel behels gespesialiseerde reddingstoerusting wat hoëdruklugsakke bevat wat tot 120 ton op ’n slag kan oplig.

Sommige van die 160 opgeleide soek-en-reddingsbeamptes het volgens Bredell al voorheen aan opruimings by nege massiewe aardbewings wêreldwyd deelgeneem, onder meer die aardbewing in 2010 in Haïti.

“Boonop word verskeie oefensessies jaarliks gehou om te verseker ’n gereedheidsvlak word gehandhaaf.”

Geen skade is aangemeld

Charlotte Powell, woordvoerder van Kaapstad se rampbestuur, sê geen skade aan infrastruktuur is tot dusver aangemeld nie.

Die Kaapstadse metroraad het ’n beroep op mense gedoen om enige moontlike impak van die voorval aan te meld by die openbare noodkommunikasiesentrum deur 021 480 7700 te skakel op ’n selfoon, of 107 van ’n landlyn.

Dit gons op sosiale media

Teen Sondag het sosiale media steeds gegons oor die aardbewing.

Isabel Roesch het op Facebook geskryf: “Ons kuier in Durbanville, dit het geklink soos veraf donderweer se gerommel en ek het dit gevoel onder my voete. Ons gasheer het gedink dis die kinders wat iets aangevang het en hulle bymekaar gemaak. Niks het beweeg in die huis nie.”

Ann Laureti, wat tussen Milnerton en Blouberg woon, het op Facebook gesê sy was reeds in die bed toe die skudding plaasvind. Sy het gedink daar was ’n ontploffing by ’n vulstasie. Toe lui haar foon en haar dogter sê: “Mamma, Mamma, het Mamma dit gevoel, dit was ’n aardbewing!”

“Vyf minute later” was die state vol polisiemotors, sirenes en het haar krag afgegaan. “Dis nie iets wat ons sommer gou sal vergeet nie.”

Die komediant Marc Lottering het op Twitter geskerts: “Ons moet nou die Jerusalema-dinge stop. Ek het julle gewaarsku.”

Nog mense het op Twitter met humor op die situasie gereageer.

Capies, nou dat ek julle aandag het, kô gesels saam. Soos julle nou al n geruime tyd weet interesseer dit my grensloos...

Posted by Anena Burger on Saturday, 26 September 2020


Meer oor:  Kaapstad  |  Aardbewing  |  Aardtrillings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.