Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Aardskuddings ‘ruk’ Namakwalanders uit die kooi

Namakwalanders is Maandag en Dinsdag deur twee aardskuddings uit die kooi geskud.

’n Aardskudding van 2.4 is Maandag om 21:26 tussen Loeriesfontein en Kliprand aangeteken. Sowat vier uur later om 01:39 is ’n groot skudding van 4.2 in Springbok gevoel.

Christa de Vries van Springbok.

Inwoners van Namakwaland het hulle dadelik tot sosiale media gewend: “Sjoe, wie is nog wakker? Wat was dit?”

Heidi Kirchner Stone van Springbok het geantwoord: “Ons het nou wakker geskrik. Lam van vrees. Ons ruite het gebewe.”

Christa de Vries, ’n inwoner van Springbok, sê sy was toevallig wakker en op pad om vir haar worshond die deur oop te maak toe die skudding hulle tref.

“Arme Worsie het verstar en op die plek ’n glipsie gehad.”

Sy sê dit het skielik gevoel asof die aarde skuif en die ruite het gebewe.

“Maar daardie vreemde geluid was die ergste.”

Nog ’n inwoner, Heidi Goosen, sê sy het ná die skudding ’n naar kol op haar maag van die skrik gehad.

“Ek het wakker geword van wat geklink het soos iemand wat teen die ruit klop. Die volgende oomblik toe kom daai gerammel.”

Sy sê dit het gevoel asof die bed beweeg. Die vensters het geraas en gerammel en die honde het begin blaf.

“My worshond het soos ’n vuurpyl onder die duvet uitgespring en begin blaf.”

Aardskudding
’n Kaart deur die Raad vir Geowetenskappe wat aandui waar die aardskudding in Springbok plaasgevind het. Foto: Raad vir Geowetenskappe

Deidre Kleynhans, ook van die omgewing, sê sy het so tien minute voor die skudding wakker geskrik.

“Ek was deur die slaap, maar ek kan vir jou sê dit het lank aangehou.”

’n Kaart van die Raad vir Geowetenskappe wat aandui waar die aardskudding tussen Loeriesfontein en Kliprand plaasgevind het. Foto: Raad vir Geowetenskappe

Kleynhans se ma, Anne, wat in Vredendal woon, het Maandagaand die effek van die skudding naby Loeriesfontein gevoel.

“My ma sê dit het gevoel soos ’n golf wat onder haar deurbeweeg en die mure van haar huis het kraakgeluide gemaak.”

Eldridge Kgaswane, hoofwetenskaplike van die Raad vir Geowetenskappe, het die skuddings in Loeriesfontein en Springbok bevestig, maar sê dit is onwaarskynlik dat die skuddings met mekaar verband hou.

Aardskudding
Deidre Kleynhans

Hy sê die skudding in Springbok het ongeveer 44 km suidoos van die dorp ontstaan.

Die skudding naby Loeriesfontein het 240 km verder suid van Springbok plaasgevind.

“Ek dink nie die twee skuddings hou met mekaar verband nie.”

Kgaswane sê die raad se strukturele geoloog, dr. Taufeeq Dhansay, sal Dinsdag later die skuddings ondersoek om ’n volledige verslag saam te stel oor die moontlike oorsaak daarvan.

“Dit lyk asof daar moontlik ’n breukstelsel tussen Loeriesfontein en Springbok kan wees wat veroorsaak het dat die aardskuddings gelyktydig gebeur het, maar dit kan eers ná ’n deeglike ondersoek vasgestel word.”

Meer oor:  Aardbewing  |  Springbok  |  Namakwaland
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.