Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Aasvoëls vry ná maande van sorg

Drie kritiek bedreigde witrug­aasvoëls (Gyps africanus), wat verlede jaar slagoffers was van ’n massavergifting en gered is, is verlede week in die noorde van KwaZulu-Natal vrygelaat ná nege maande van intense rehabilitasie.

Dit is ’n suksesverhaal waarin ’n groep nieregeringsorganisasies (NRO’s) en die provinsiale bewaringsowerheid Ezemvelo KZN hande gevat het, het Chris Kelly, direkteur van spesiebewaring van die NRO Wildlife Act, Maandag gesê.

Vele bedreigings staar wit­rugaasvoëls in die gesig. “Vergifting is net een daarvan,” sê hy.

Baie aasvoëls gaan dood wanneer hulle in kragdrade en ander kraginfrastruktuur vasvlieg.

witrugaasvoëls
’n Blye dag vir drie witrugaasvoëls, wat verlede week in die Manyoni- private natuurreservaat in die noorde van KwaZulu-Natal vrygelaat is. Foto’s: Love Africa Marketing

“Habitatverlies en -verandering, asook ’n gebrek aan kos, is van die ander bedreigings vir dié uiters skaars aas­voëls.”

Ben Hoffman van die bewaringsorganisasie Raptor Rescue, sê ’n aasvoël bereik eers ná sy vyfde tot sewende jaar volwassenheid. ’n Broeipaar lê ook net een eier per jaar.

“Dit beteken twee voëls het twee jaar en die 100% suksesvolle uitbroei van ’n enkele eier­ nodig om hulself te vervang.”

Uitwissing staar al die aas­voëlbevolkings wat in Afrika suid van die Sahara voorkom, in die gesig, sê Wildlife Act en Love Africa Marketing in ’n gesamentlike verklaring.

Volgens die internasionale bewaringsunie (IUCN) se rooidatalys is 39% van al die aas­voëls kritiek bedreig.

“KwaZulu-Natal het ’n besondere aas­voëlbevolking. Hierdie projek, wat gelei is deur die Zululand Vulture Project, fokus spesifiek op die spesies wat in hoë bome nesmaak. Dit sluit die witkop­aasvoël (Trigonoceps occipitalis), die witrug- en die swartaasvoël (Torgos tracheliotus) in.

“Die gebruik en misbruik van gif in KwaZulu-Natal dra dikwels by tot massavergiftings.”

witrugaasvoëls
Ná nege maande se intensiewe versorging kan dié witrugaasvoël weer in die wye ooptes van KwaZulu-Natal rondvlieg.
Die gebruik en misbruik van gif in KwaZulu-Natal dra dikwels by tot massavergiftings.

Aasvoëlbevolkings is verlede jaar besonder hard deur vier massavergiftings in die noorde van die provinsie getref. 56 voëls­ is vergif. Die Zululand Vulture Project se vinnige optrede het daartoe gelei dat Wildlife Act se reaksiespanne baie gou op die toneel kon wees.

Die drie witrugaasvoëls kon gered word en die gebied kon ook baie gou gedekontamineer word om verdere vergifting te voorkom.

Die vergifte voëls wat nog geleef het, is na Rapture Rescue in Pietermaritzburg gebring en vir nege maande versorg.

Hoffman sê die versorgers het die aasvoëls heeltyd gehidreer en met die beste kos aan die lewe gehou.

Woensdag was die groot dag waarop drie van die aasvoëls wat die vergifting oorleef het, in die natuur vrygelaat is.

Elke voël is met ’n mikroskyfie toegerus en hul bewegings sal noukeurig dopgehou word.

Die bewaringsorganisasies doen hul bes om mense in te lig oor die noodsaak van aasvoëls in die natuur.

Een van die grootste take wat die organisasies het, is om die moetiebedryf ook ingelig te hou oor die belangrikheid van aasvoëls as deel van die ekologiese ketting.

Meer oor:  Vrylating  |  Witrug­Aasvoëls  |  Vergiftiging  |  Rehabilitasie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.