Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
AgriSA trek streep oor hidrobreking

AgriSA het Woensdag ’n streep getrek oor hidrobreking.

Johannes Möller, president van AgriSA, het op ’n mediakonferensie in Centurion gesê met talle onbeantwoorde vrae oor hidrobreking kan hy nie die regering se voorgestelde pogings daarmee steun nie.

AgriSA ondersteun die regering in sy soeke na volhoubare energiebronne, maar hy het nou “ ’n streep getrek oor hidrobreking”.

“Voordat die regering die landbougemeenskap die versekering kan gee dat grond waarop skaliegas ontgin is, ná die tyd 100% tot landbougrond gerehabiliteer kan word, kan AgriSA nie dié energieplan steun nie.”

Hy sê Suid-Afrika is die enigste land in Afrika wat nog vir sy mense kan kos gee. “Ons kan nie Suid-Afrika se voedselsekerheid ter wille van die ontginning van skaliegas op die spel plaas nie.”

Johannes Möller

Volgens hom het AgriSA sowat drie jaar gelede gevra vir ’n moratorium op alle planne vir hidrobreking sodat intensiewe navorsing oor moontlike water- en grondbesoedeling gedoen kan word. “Die moratorium het byna ’n jaar gelede verstryk en ons wag nou nog op antwoorde en die uitslag van die navorsing.” Intussen het Mosebenzi Zwane, minister van minerale bronne, in Mei vanjaar in sy begrotingsrede gesê die ontwikkeling van skaliegas sal na verwagting in die volgende tien tot 15 jaar begin.

Janse Rabie, AgriSA se hoof van natuurlike hulpbronne, sê AgriSA in KwaZulu-Natal het onlangs interdikte teen die Petroleumagentskap van Suid-Afrika (Pasa) gekry vir die uitreik van tegniese samewerkingspermitte en eksplorasieregte aan Rhino Oil and Gas op 15 000 plase. Die plase beslaan gesamentlik sowat 1,6 miljoen ha.

Hy sê die probleem met die toestaan van tegniese samewerkingspermitte en eksplorasieregte vir skaliegas ingevolge die Wetsontwerp op die Ontwikkeling van Minerale- en Petroleumhulpbronne (MPRDA) is dat die houers van dié regte die eksklusiewe reg kry om aansoek te doen vir produksieregte, wat heel waarskynlik gegee sal word.

“Dit sou dus onwys wees om nie vanaf die begin ’n standpunt oor die kwessie in te neem nie, wetende dat regte wat verkry word, reeds die houers daarvan kan toelaat om in die toekoms voort te gaan met volskaalse produksie.”

Möller sê AgriSA het ’n vennootskap met die Wêreldnatuurfonds (WWF) gesluit om die kwessie van hidrobreking en die bedreiging wat dit vir die land se waterbronne en voedselsekerheid inhou, te hanteer.

Aansoeke vir hidrobreking is nie net beperk tot die Karoo en KwaZulu-Natal nie, maar daar is ook aansoeke in groot dele van die Noord-Kaap, die Noordoos-Vrystaat, die Springbokvlakte en feitlik die hele Suid-Afrikaanse kuslyn.

AgriSA het ’n beroep op gemeenskappe gedoen om ingelig te raak oor aansoeke en om sover moontlik openbare vergaderings daaroor by te woon.

Meer oor:  Johannes Möller  |  Centurion  |  Agrisa  |  Trek  |  Hidrobreking
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.