Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
8-jarige maak stem dik teen seerommel

As meer mense die passievolle entoesiasme gehad het vir natuurbewaring van Chloé Mid­dleton (8), sou die wêreld ’n beter plek gewees het om in te woon.

Stacey Webb, bestuurder van Sankub Port Elizabeth, en Chloé Middleton by haar sertifikaat en speelgoed-pikkewyn wat sy ontvang het. Foto: Willemien Green

Nadat haar pa ’n plakkaat wat deur haar gemaak is op die KINGS BEACH-lewensreddersklub se Facebook-blad geplaas het, het Stacey Webb, die bestuurder van Sankub in Port Elizabeth, dit gesien en besluit om haar met ’n spesiale toer by Sankub te bederf.

Chloé, wat in gr. 2 aan die Laerskool Collegiate is, was onlangs saam met haar gesin by Qoloramond in die Oos-Kaap met vakansie. Gedurende een van die gesin se uitstappies op die strand het hulle op ’n dooie pikkewyn afgekom.

“Chloé was vreeslik ontsteld oor die dooie pikkewyn,” het Paul Middleton, haar pa, gesê.

“Daar was oral plastiek op die strand en ek het aan Chloé gesê dat dit moontlik een van die redes kon wees waarom die pikkewyn gevrek het.”

Daarna het sy hom sonder ophou gepeper met vrae oor natuurbewaring en wou sy daadwerklik iets daaraan doen.

“Ek het ’n plakkaat gemaak en my pa gevra om dit op sy Facebook-blad met sy vriende te deel,” sê sy.

“Toe maak ek nog een met dolfyne sodat almal kan begin help om die strande skoon te maak,” sê Chloé.

“My pa het vir my ook ’n fliek gewys van ’n dooie walvis. Toe hulle sy maag oopsny, was dit vol plastiek!”

Stacey Webb, bestuurder van Sankub, Port Elizabeth verduidelik aan Chloé Middleton die verskillende fases van ’n pikkewyn se lewe. Foto: Willemien Green

“Skilpaaie en dolfyne eet ook die plastiek, want hulle dink dit is kos. Dit maak baie diere dood.”

Gisela Sagar, die familie se au pair die afgelope twee jaar, help net so hard om Chloé se nuutgevonde belangstelling met leersame inligting te voer.

“Ek moes ook al die mariene-wetgewing aan haar verduidelik. Sy is ’n slim meisietjie en leer vinnig en graag,” sê Sager.

Sagar, self ’n groot pikkewyn-liefhebber, het daar en dan gedemonstreer hoe sy soos ’n pikkewyn kan loop tot groot vermaak van Chloé en die omstanders by Sankub!

Tydens die toer by Sankub kon Chloé inloer by die hoësorgeenheid waar die publiek gewoonlik nie toegelaat word nie, toekyk hoe Zamo Lazola die pikkewyne voer, asook hoe die pikkewyne wat môre vrygelaat word vir oulaas so bietjie swem om seker te maak dat hul vere waterdig is.

Ná die toer waartydens die jong dame sonder ophou vrae gevra het, het sy ’n sertifikaat en speelgoed-pikkewyn by Webb ontvang.

“Ek gaan nou my eie strandskoonmaak reël,” het sy vrolik gesê.

“My ma gaan my help om kaartjies te maak waarop daar staan hoe gevaarlik plastiek vir die seediere is en dan betaal mense wat wil help skoonmaak R5 en kry ’n kaartjie.

“Ek gaan ook ’n deel van my verjaardaggeld vir Sankub gee en al my maats uitdaag om dieselfde te doen. Eendag as ek groot is, wil ek ook by ’n plek soos Sankub werk of ’n eko-vegter (eco warrior) word.”

Chloé Middleton se eerste plakkaat waarmee sy haar stempel in natuurbewaring afgedruk het. Foto: Willemien Green
Chloé Middleton kyk hoe die pikkewyne gevoer word. Foto: Willemien Green
Die reaksie deur Tess Kotze op die Facebook-blad oor die plakkaat wat Stacey Webb se aandag getrek het. Foto: Willemien Green

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.