Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Al hoe meer vetplante gestroop, veral vir Asië
Gekonfiskeerde glasvingertjies. Foto: Springbok SAPD

Halfmensplante en ander skaars en bedreigde vetplante wat in die Noord-Kaap gestroop en aan die oorsese swartmark verskaf word, is ’n groeiende kopseer, sê die bewaringsowerheid.

Stropers teiken veral die Conophytum-spesies soos knopies en waterblasies. Vetplante wat skaars en bedreig is en met spesiale kenmerke soos vet blaartjies, ’n unieke stamstruktuur en bolle met krullerige blare spog, is in Asië gesog. Versamelaars hou spesifiek van plante wat uniek gevorm is deur ’n “stryd om oorlewing”.

Die polisie het in die laaste jaar 88 sake van stroping ondersoek en 131 stropers vasgetrek. Van hulle was 38% buitelanders en 62% Suid-Afrikaners.

Vroeër vanjaar is twee Koreaanse stropers elk met R1,5 miljoen beboet en een van hulle is aan Amerika uitgelewer om daar tereg te staan op nog smokkelklagte.

In die Richtersveld is in die afgelope jaar een stroopvoorval aangemeld, maar Sanparke sê dit was die ergste geval tot nog toe in die Sukkulente-Karoo-bioom, want 12 halfmense (Pachypodium namaquanum) is gestroop.

In April het die polisie op Springbok se eenheid vir veediefstal en bedreigde spesies ’n inwoner van Garies met vetplante van R150 000 vasgetrek.

Dié sak gestroopte vetplante is in April op Garies gekonfiskeer.

In Oktober is twee mans met Conophytum pageae van R200 000 in hul motor buite Springbok vasgetrek.

Petro van Rhyn, bestuurder by Cape Nature, sê Suid-Afrika se ryk biodiversiteit lok ook stropers en die uitwerking daarvan is verwoestend. Fayroush Ludick, Sanparke se woordvoerder, sê stroping het sedert 2005 geleidelik toegeneem. Spesies wat algemeen en nie-bedreig was, word nou ernstig bedreig omdat geneties unieke bevolkings vernietig en gefragmenteer word. Sommige spesies raak geneties swakker en daarom meer weerloos teen siektes, klimaat en probleme soos parasiete.

Stropery is op die oomblik die ergste in Namakwaland en die Knersvlakte-gemeenskappe en dring reeds die Richtersveld binne.

Kapt. Karel du Toit sê die eenheid vir veediefstal en bedreigde plant- en dierspesies op Springbok het vanjaar al 30 sake hanteer, 47 verdagtes in hegtenis geneem en ses voertuie gekonfiskeer.

Stropers kom die land binne as toeriste, huur ’n motor op die lughawe en kom stroop. Sommige koop ’n paar plante by ’n kwekery en bekom ’n uitvoerpermit, maar stuur dan ’n groter besending gestroopte plante saam met die wettige besending landuit, sê hy.

Die Richtersveld Nasionale Park se ingang word nou 24 uur beman.

Meer oor:  Stropers  |  Swartmark  |  Vetplante
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.