Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Al meer diere op wildtuin se gholfbaan
’n Trop leeus geniet die sonsopkoms op die Skukuza-gholfbaan in die Krugerwildtuin.Foto: Jean Rossouw
Kameelperde geniet die oggendson op die gholfbaan. Foto: Jean Rossouw

Die Skukuza-gholfklub in die Krugerwildtuin het die laaste weke ’n paar vreemde besoekers op sy baan verwelkom.

Hulle was nie daar om gholf te speel nie, maar om sonsopkoms op die groen gras van die baan te geniet.

Dié besoekers het onder meer leeus, sebras, verskeie boksoorte, kameelperde, olifante, wildehonde en ’n buffel ingesluit.

’n Trop wildehonde in die Krugerwildtuin op pad om ’n draai te maak op die Skukuza-gholfbaan.Foto: Jean Rossouw

Jean Rossouw, die baanopsigter, het foto’s van die wilde diere vanuit sy bakkie op sy selfoon vasgevang.

Hy doen instandhouding om die gholfbaan groen en gesond te hou terwyl al sy kollegas tuis is weens die nasionale inperking.

Rossouw woon in die Skukuza-woonkwartiere, sowat 500 m van die naaste putjie op die gholfbaan.

’n Trop leeus van die Krugerwildtuin lê op die Skukuza-gholfbaan. Foto: Jean Rossouw

“Ek lei die gholfbaan met die hand nat en sny ’n paar keer per week die setperke en elke afslaanbof om te voorkom dat die gras te dik word. Dit is noodsaaklike dag-tot-dag take wat gedoen moet word om te verseker dat die baan gesond bly,” sê Rossouw.

Dit is deel van sy daaglikse roetine om vroegoggend, voordat hy aan die werk spring, eers ’n draai op die gholfbaan te ry om te kyk of dit veilig is. Indien daar enige wilde diere op die baan is, sal hy hulle afjaag.

Nou sien Rossouw hoe die natuur na ruimtes terugkeer wat gewoonlik deur mense beset word.

Wildehonde geniet die groen gras op die Skukuza-gholfbaan. Foto: Jean Rossouw

“Nadat mense die gebied ontruim het, het die welige grasperke en waterweë wat deur die baan voorsien word, gedien as ’n ideale speelgroep vir ’n magdom diere. Terwyl ek my daaglikse werk gedoen het, was ek gelukkig om ’n paar asemrowende diere teë te kom,” sê hy.

Hoewel dit nie ongewoon is vir diere om ’n draai op die heininglose gholfbaan te maak nie, is dit nou ’n meer gereelde verskynsel. Selfs skaars en skugter diere, soos wildehonde, het ook al kom inloer.

“Hulle voel gemakliker en kom nou meer uit om die groen gras te geniet omdat dit stiller is,” sê Rossouw.

“Die troppe sebras is veral ongewoon. Ons het voorheen nog nie baie hier gesien nie, want hulle is gewoonlik te skaam om na die baan te kom om water te drink by die groot dam voor die klubhuis.”

Wildehonde maak ’n draai op die gholfbaan. Foto: Jean Rossouw

Van die ander besonderse verskynsels waarop hy gedurende die tydperk van inperking op die gholfbaan afgekom het, is wildehonde wat rooibokke vreet en luiperdspore.

“Ek het die laaste twee dae geen wildehonde en leeus gesien nie, maar hulle sal seker weer kom draai. Dit is ongelooflik om die wildehonde van naby te aanskou en te sien jag.”

Meer oor:  Krugerwildtuin  |  Koronavirus  |  Gholfbaan  |  Diere
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.