Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
‘Almal moet bedreiging verstaan’

Barbara Creecy, minister van omgewingsake, bosbou en visserye, wil Suid-Afrikaners omgewingsgeletterd maak sodat hulle die veranderende klimaat en die impak daarvan op hul lewe kan verstaan.

’n Peiling het onlangs gewys 54% van Suid-Afrikaners het nog nooit van klimaatsverandering gehoor nie.

Creecy was Dinsdag die spreker op ’n navorsingskongres wat deur die mynmagnaat Nicky Oppenheimer en sy vrou, Strilli, in Midrand aangebied is.

Creecy het gesê haar departement probeer nou vasstel hoe omgewingsbewus Suid-Afrikaners is.

Sy het pas van die klimaatberaad Climate Action in New York teruggekeer en is meer as ooit onder die indruk dat omgewingsagteruitgang, die verlies aan biodiversiteit en aardverhitting almal gaan raak.

“Elkeen van ons móét hierdie prosesse verstaan sodat ons individueel en kollektief kan reageer.

Volgens die peiling het 37% van alle Suid-Afrikaners wat tersiêre opleiding ondergaan het, ook nog nooit van klimaatsverandering gehoor nie.

“Ons glo dus dat bewaringsbewustheid onder gewone Suid-Afrikaners noodsaaklik is.”

Sy het gesê plattelanders, die kwesbaarste van almal, is waarskynlik die swakste ingelig.

Volgens die peiling het 37% van alle Suid-Afrikaners wat tersiêre opleiding ondergaan het, ook nog nooit van klimaatsverandering gehoor nie.

“Ons wil hê al ons inwoners moet verstaan wat klimaatsverandering is. Hulle moet weet wat biodiversiteitsverlies en omgewingsagteruitgang beteken en dat hierdie verskynsels hoogs ongewens is.

“Hulle moet besef dat ons as mense die hoofoorsaak daarvan is en, baie belangrik, dat ons iets daaraan kan doen en dat ons dit nóú moet doen.

“Dit is opvallend hoeveel van die planeet se magtigste mense die wetenskap blatant ignoreer.”

Van haar grootste uitdagings is om die wetenskap by beleid in te trek.

Dit is ook ’n uitdaging om navorsing so toeganklik en verstaanbaar te maak dat dit nie vervelig is nie.

Die volgende uitdaging is “om swak wetenskap”, die “alternatiewe waarheid” en “vals feite” – waaraan die media dikwels ewe veel aandag gee in ’n poging “om ’n gebalanseerde standpunt” te bied, te stuit.

Sy het gesê dit is reeds bekend dat Suid-Afrika een van die drie mees biodiverse lande ter wêreld is en dat die Nasionale Ontwikkelingsplan hierdie aspek beklemtoon.

Ingevolge die oseaan-ekonomie-inisiatief Operasie Phakisa is 5,4% van Suid-Afrika se mariene gebiede nou bewaar, het sy gesê.

“Hiermee is 90% van die land se unieke oseaanekostelsels nou bewaarde ekostelsels.

“Dit is noodsaaklik dat die huidige geslag ’n omgewing vir die toekomstige geslagte nalaat wat ten minste in dieselfde toestand is as wat hulle ons geërf het.”

  • Sy het die Oppenheimers geprys vir hul stryd om van die wêreld ’n beter plek te maak as dié wat vir hulle nagelaat is en vir die feit dat hulle volhoubare en voorspoedige samelewings gevestig het.
Meer oor:  Barbara Creecy  |  Klimaatsverandering  |  Klimaat
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.