Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Arend-kuiken loer vir die wêreld buite

Die witkruisarend-kuiken wat vroeër vandeesmaand in die Walter Sisulu-botaniese tuin in Roodepoort uitgebroei het, word sterker en het nou die dag selfs sy kop by die nes uitgesteek.

Dit gaan baie goed met die kleintjie, wat sowat vier weke gelede uitgebroei het, sê Gerald Draper, roofvoëlkenner en voorsitter van die Roodekrans-witkruisarendprojek.

Dié organisasie monitor en dokumenteer die arende se bewegings.

“Op ’n onlangse foto kan ’n mens sien hoe Makatsa, die ma, die kuiken voer. Die kuiken steek sy kop net bo die rand van die nes uit,” vertel Draper.

Draper het vroeër verduidelik dat ’n witkruisarend gewoonlik ’n tweede eier lê sowat vier dae ná die eerste een, maar Makatsa se tweede kuiken is waarskynlik reeds dood.

Die arendwyfie Makatsa voer haar die kuikentjie, wat oor die rand van die nes loer. Foto: ERNEST PORTER

“Die tweede kuiken leef slegs ’n paar dae. In hierdie geval is ons nie seker of die tweede eier wel uitgebroei het nie omdat ons nie in die nes kan sien nie.”

Hy sê Makatsa voer in dié stadium slegs die een kuiken.

Draper het vroeër verduidelik dat die tweede eier byna iets soos ’n versekeringspolis is. “As daar iets met die een eier gebeur, is daar altyd die tweede een.”

Die verskil van vier dae tel in die guns van die ouer kuiken. Die wyfie sal vir hulle prooi bring, maar die ouer een is natuurlik groter en sterker en kry dus meer kos in as die ander een.

Sodra die eerste kuiken sterk genoeg is, val hy die jonger kuiken gewoonlik aan en maak hom dood.

“Dit is net hul manier van oorlewing,” sê Draper.

Die kuiken word elke dag en soms elke tweede dag deur die arendwyfie gevoer.

Soms bring die ouers ook groter prooi, soos ’n dassie, wat genoeg kos vir ’n paar dae vir die kleintjie is.

Draper sê as alles in die volgende maande glad verloop, sal die kuiken in die eerste week van September sy vere kry.

As die kuiken ’n wyfie is, sal dit moontlik ’n bietjie langer neem.

Nadat die jong arend al sy vere gekry het, bly hy vir nog sowat drie maande in die gebied, sê Draper. In dié tyd word die jong arend geleer om te vlieg en te jag.

“Die ouers sal dan begin om die jong arend te treiter totdat hy die gebied verlaat om sy lewe te begin. Hulle gaan gewoonlik na gebiede in die Magaliesberg, waar daar ander broeipare met hul eie kuikens is.”

Draper het voorheen gesê die nuwe kuiken is ’n fantastiese aanwins vir dié spesie.

“Ons wil die spesie werklik lewend hou. Hierdie voëls broei al sedert die 1930’s in dié gebied.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.