Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Arendkuiken dalk op pad in botaniese tuin

Die Walter Sisulu Botaniese Tuin in Roodepoort is waarskynlik een van die eerste plekke wat voëlliefhebbers gaan besoek wanneer die staat van inperking opgehef word nadat dit duidelik is dat die witkruisarend-broeipaar ’n nuwe kuiken op pad het.

Een van die laaste foto’s wat Johann van Berg van die witkruisarende in die Walter Sisulu Botaniese Tuin in Roodepoort voor die inperking kon neem. Die mannetjie, Mahlori, vlieg aan die bokant van die wyfie, Makatsa. Foto: Johann van den Berg

“Ek is versigtig optimisties nadat een van die opsigters verlede Sondag die wyfie Makatsa saam met die mannetjie Mahlori by die nes gesien het,” het Gerald Draper, roofvoëlkenner en voorsitter van die Roodekrans-witkruisarendprojek, ’n organisasie wat die arende se bewegings monitor en dokumenteer, gesê.

Mahlori het verlede jaar by Makatsa begin vlerksleep nadat Thulane, die vorige mannetjie, sedert Junie nie weer by die botaniese tuin, waar die arende in die kranse nesmaak, gesien is nie.

Eie aan sy natuur het Mahlori ’n kuiken van Makatsa en Thulane uit die nes geskop. Maar nou wys die voortdurende geskarrel by die nes dat nuwe lewe dalk op pad is.

“Ek wil nie te gou opgewonde raak nie, maar die opsigter vertel hoe Mahlori ’n kraai van die nes af wegjaag en gereeld nuwe stokkies en grassies daarheen bring.

“Eiers word gewoonlik in April of Mei gelê. Een van die eerste tekens is dat die wyfie lang tye op die nes sit. Ek brand van nuuskierigheid en die stelselmatige uitfasering van die inperking help nie om my opgewondenheid in toom te hou nie,” het Draper laggend gesê.

Shane Wilken en Johann van den Berg is van die talle natuurfotograwe wat die afgelope paar jaar gereeld die arende se nes vir uitsonderlike foto’s besoek.

“Die laaste keer dat ek ’n foto van die arende kon neem, was vroeg in Maart voor die inperking en dit was duidelik broeityd, so ek hoop ’n nuwe kuikentjie is op pad,” het Wilken gesê.

Shane Wilken het hierdie foto vroeg in Maart van die witkruisarende geneem. Makatsa, die wyfie, sit op die nes terwyl die mannetjie, Mahlori invlieg. Foto: Shane Wilken

Volgens Van den Berg vat dit sowat 44 dae voordat ’n eier uitbroei. “Gewoonlik lê die wyfie twee eiers vier dae uitmekaar. Wanneer die kuikens uitbroei, maak die sterker kuiken die swakker een dood. Dit gaan in die natuur oor die oorlewing van die sterkstes.

“Ek kan nie wag dat die inperking opgeskort word sodat ek die majestueuse voëls weer deur my kamera se lens kan vasvang nie,” het Van den Berg gesê.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.