Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
‘Arm’ renosterboer Hume soek lusern

John Hume, omstrede renosterboer van Noordwes, is diep in ’n finansiële verknorsing en soek dringend lusern-skenkings so-dat hy sy 1 642 renosters aan die lewe kan hou.

Die knellende droogte in Noordwes het hom sedert April verlede jaar genoodsaak om oral in die land lusern te koop sodat hy sy renosters kan voer, het Hume gister gesê.

'n Renosterkalfie wat deur die teelprogram op John Hume se plaas gebore is.

Hy sal dit nie veel langer kan bekostig nie omdat die lusern hom maandeliks R48 000 uit die sak jaag.

“My geld is besig om op te raak,” sê hy.

Hume skryf in ’n e-posboodskap aan Netwerk24 weens omstandighede buite sy beheer wat hom keer om renosterhoring te verkoop sodat hy sy lopende uitgawes kan betaal, is sy spaarrekening nou feitlik leeg omdat hy die geld moet gebruik om voer te koop.

Volgens hom is 300 van sy renosters op enige gegewe tyd dragtig en probeer hy nou alles in sy vermoë om sy diere aan die lewe te hou.

Die dragtige renosters sal almal binne die volgende 16 maande geboorte gee.

“Ek het een van die beste teelprogramme vir renosters op die planeet.

“Om die renosters aan die lewe te hou en om my bedryfskoste te dek, moet ek jaarliks ’n inkomste van minstens R4,8 miljoen hê.

Een van die renosters op John Hume se plaas.

“Meer as die helfte van hierdie geld word bestee aan die beskerming van renosters teen die deurlopende aanslag van stropers.

“Boonop is ons nou midde-in ’n geweldige droogte, wat volgens my buurman wat al 50 jaar hier woon, die ergste is wat hy tot nog toe ervaar het.

“Ons voer daagliks 16 t lusern aan die renosters,” sê Hume.

Hy sê selfs meer lusern gaan binnekort nodig wees as die provinsie nie dringend goeie reën kry nie.

Volgens hom is dit reeds laat in die seisoen en lyk dit asof hy sy renosters regdeur die winter sal moet voer.

In ’n ope brief aan moontlike skenkers skryf Hume hy ervaar sedert April verlede jaar finan­siële probleme om sy teelprogram vir witrenosters aan die gang te hou.

Hy sê hy het verlede jaar ’n klompie van sy witrenosters aan Swaziland verkoop en kon dié geld gebruik om tot onlangs nog die renosters te voer wat hy op sy plaas, Buffalo Dream Ranch, buite Klerksdorp aan-hou.

“Ons kon Dag Zero afweer. Dag Zero het wel nou gekom,” sê hy in die brief.

Vier renosterwesies op John Hume se plaas in Noordwes drink hul melk uit emmers. Die wesies word tot hulle sowat vier jaar oud is in ’n weeshuis vir renosters op die plaas gehuisves voordat hulle weer op die plaas vrygelaat word. Foto: Kobie van Zyl

Hume sê as hy nie dringend hulp kry nie, sal hy sy onderneming moet sluit. 100 werkers sal sonder ’n inkomste wees en sy renosters sal aan die genade van stropers oorgelaat word.

Volgens Hume is hierdie brief ’n dringende versoek om hulp.

Hy skryf hy is reeds 77 jaar oud en moet daaraan begin dink om “hierdie natuurlike erfenis aan die volgende geslag oor te dra”.

Hy skryf sy hart is gebreek oor die situasie. Hy sal enige hulp van skenkers of beleggers in sy projek baie waardeer, skryf hy.

Smaragda Louw van Ban Animal Trading en een van Hume se grootste kritici omdat hy met renosters boer asof hulle beeste is en hul horings wil verkoop, sê Hume behoort sy hele renosterbevolking aan ’n bewaringsinstelling te skenk.

“Hy kan nie geld van die bewaringsgemeenskap verwag vir sy sakeonderneming nie.

“Ons sal net geld bymekaarmaak vir die renosters as hulle in ’n plek is van veilige bewaring waar hulle nie vir geldelike gewin uitgebuit sal word nie,” sê Louw.

Meer oor:  Buffalo Dream Ranch  |  John Hume  |  Noordwes  |  Klerksdorp  |  Droogte  |  Renosterboer  |  Lusern
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.