Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
As daar water is en die stof gaan lê ...

Daar is min dinge wat soveel opgewondenheid en vreugde bring soos die Kurumanrivier, wat in vloed, deur ’n dorre landskap oor honderde kilometers sy pad stadigaan oopvloei na Askham in die Kalahari.

Die Kurumanrivier by Vanzylsrus uit die lug uit gesien.

Die laaste keer dat dié droë boloop van die Oranjerivier soos ’n koper kapel deur die rooi duine van die halfwoestyn al kronkelend, magies en blink in die son geseil het, was in 1988.

Alhoewel die Kurumanrivier 26 jaar gelede ook sterk afgekom het, het hy nie die hartland van die Kalahari gehaal nie.

So het boere in 1976 met bote op die Kurumanrivier gery toe die rivier deur Askham en Witdraai gevloei het. Die rivier het die laaste keer in 1988 so sterk hier gevloei. Elsje Botha het dié foto van daardie jaar in 1976 gedeel. Foto: Elsje Botha

Die afgelope twee weke heers ’n belewenis van blydskap in dié geweste.

Met die bogemiddelde reënval wat sedert Desember hier en oor groot dele van die Noord-Kaap uitgesak het, het die waters, waarvoor daar só lank gebid en geduldig gewag is, uiteindelik gekom.Agt jaar droogteNá agt jaar van uitmergelende droogte. Agt jaar van moedeloosheid, die horison dophou, planne maak, oor moedverloor se vlaktes uit staar en wonder – wonder wanneer die groot reën gaan kom.

Agt jaar se asemsnak elke keer as daar ’n troosbui uitsak, maar die hoop weer vervaag as geen opvolg kom nie en die opslag vrekbrand nog voor dit behoorlik ’n graspol kon vorm.

En dan sak die grondwatervlakke al hoe dieper weg en raak al hoe meer brak.

Skoon seperige soutwater. Selfs die kameeldorings, wat se wortelstelsels diep deur die aarde na water boor, begin droewig ween en stadigaan vrek.

Ongeloof staan aan die orde van die dag, want jy wil nie te bly raak oor voorspellings van wonderwerke wat nooit gebeur nie.Dis makliker om ’n Thomas te wees as om nóg teleurstelling te verwerk en nóg diere voor jou oë aan honger te sien wegkwyn en vrek.

Toe kom die reën

Maar toe kom die reën en dit hou aan kom en uiteindelik, met die inval van die nuwe jaar op 2 Januarie, breek die hemele oop bo Tsineng naby Mothibistad en die Kuruman- en Moshawengrivier ontwaak uit ’n jare lange diepe slaap.

Die twee waterslange begin hul spoor deur die duine kerf. Eers net tot voor Aansluit, maar dit sal nog ’n maand en nog swaar neerslae verg voor die dorstige aarde sal toelaat dat die Kuruman salig sy pad tot by Vanzylsrus, die eerste baken van hoop, oopkerf.

Maar as die Kuruman eers tot dáár kon kom, sal die swaarmoedigheid oor die hele Kalahari lig, want dan weet al wat leef en beef voorspoedigheid is op pad.

En toe op 27 Januarie word die sluise bo Kuruman, Kathu, en Daniëlskuil oopgetrek. Binne die bestek van 24 uur sak tussen 250 mm en 350 mm reën in dié geweste.

Die Gamagararivier begin brul en vloed oor haar oeroue roete om by die Kurumanrivier aan te sluit.

Daar is net een rigting nou, en dit is Vanzylsrus toe.

As daar water is

’n Week later, op 6 Februarie, kom die Kuruman op Vanzylsrus aan, en in aantog boere van oor die Kalahari heen met rubberbote, kano’s, kajakke, vlotte en binnebande – ag sommer enige ding wat kan dryf, want as daar water in die Kalahari is, gaan daar geswem word dat die water spat en die stof gaan lê.

’n Boer van die omgewing merk in ongeloof op: “Ek het nie geweet hier is so baie bote in die Kalahari nie.”

Die datum word verewig op die mure van die Vanzylsrus-hotel.

Dié wat dit kon meemaak, koop ’n plaatjie en bring hul name daarop aan.

’n Ons was hier-oomblik wat vir altyd in die geskiedenisboeke opgeteken sal bly.

Dis immers net elke paar dekades dat jy die voorreg het om dié gebeurtenis te aanskou.

Vlaag van blydskap

Die kuier en feesvieringe is groot. Soos in die ou dae word daar sommer langs die pad gestop, gebraai, gesels en stories van toenterjare gedeel. Hoe kinders in 1988 met vlotte heen en weer oor die Kurumanrivier gekarwei is om skool toe te kon gaan.

Dis meelewing en verligting en afwagting, want as die Kuruman nou deur Vanzylsrus beur, dan is die pad oop Askham toe.

Oor die volgende tien dae hardloop die vlaag van pure blydskap van plaas tot plaas deur die Kalahari.

Elke paar kilometer wat die Kuruman per dag deur die landskap oopkloof, is ’n wonderwerk op wonderwerk. ’n Genade, ’n belofte van hoop, ’n troos en ongekende dankbaarheid.

En die aarde drink uit dié borrelende beker en maak haar ondergrondse reservoirs vol om vir jare vorentoe die halfwoestyn se dors te les.

Op sosiale media deel die boere die vordering van die rivier. Mense van oor die land heen volg angstig die vordering en deel in die plesier. Naels word gekou en asem opgehou.

As die Kurumanrivier deur die Kalahari vloei, is daar goeie rede om heerlik te kuier, sommer so in die pad. Foto: Carina Franck

Betta Steyn, wat ’n huis in Askham besit, maar slegs ’n paar maande van die jaar hier woon en die res van die jaar in KwaZulu-Natal, sê haar opgewondenheid het so begin oorkook dat sy haar emosies nie meer kon beteuel nie.

“Ek het so gehuil as ek video’s sien dat my sussie, Ilonka Labuschagne, gesê het ons vat nou die pad Askham toe.”

Die susters het Saterdag ná 1 200 km met ’n groot gejuig die Kalahari binnegery en die voorpunt van die rivier gaan soek.

Maar hulle was nie die enigstes wat ver gery het om in die geskiedkundige gebeurtenis te kon deel nie.

Betta Steyn en haar suster, Ilonka Labuschagne (agter), sit plat in die Kurumanrivier en skaterlag. Hulle het 1 200 km ver vanaf KwaZulu-Natal gery om in die vreugde te kan deel. Foto: Petra Knoetze

Beter as die Comrades

Ook Len Fourie en sy vrou, Elmanda, het van Upington af meer as 200 km gery.

“Ons is hier. Ons wag vir die Kurumanrivier, maar ons gaan nou sy voorpunt soek.”

Sowat 25 km buite Askham het die egpaar die rivier se voorpunt by die plaas Mooidraai gekry.

Fourie het nie op hom laat wag nie en het dadelik ’n draai gaan swem.

“Dit is net ongelooflik. Dit is ’n seën dat ek die voorreg het om dit in my leeftyd te kan beleef.”

Die Kurumanrivier kom Dinsdag by die tweede laaste driffie voor Askham in die Kalahari aan. Foto: Johan Rossouw

Steyn sê kinders van die omgewing het die week etlike kilometers gestap om die rivier te kon sien.

“Jong, dit was ’n belewenis om hul opgewondenheid te sien. Die ou kleintjies wat met ’n huppel in hul stap op pad is om net met hul voetjies in die water te kan staan. Die kinders ken nie soveel water nie.”

Retha Stadler, van die Kalahari-rooiduinroete en ’n boervrou van Askham, sê die Kurumanrivier is nou in die pylvak.

Nog net 4 km. Nog net die laaste driffie en die laaste entjie deur grasse en oor kurkdroë grond voor die water in Askham aankom.

Jeanene Jessnitz, wat ook die vordering dophou, skryf: “Dit is meer senutergend as om ’n goeie pêl se vordering in die Comrades dop te hou!”

Die skemerkelkies word solank voorberei.

Die Kurumanrivier was teen Woensdag sowat 5 km van Askham af. Daar word met groot opwinding op die rivier gewag om in dié dorpie in die Kalahari aan te kom.
Die Kurumanrivier teen sonsonder op sy pad na Askham. Foto: John Human

Binne die volgende dag sal daar groot rede tot feesviering vir die boere van Askham wees en kan almal lekker ontspanne langs die rivier teen die Kalahari se bloedrooi sonsondergange stories deel en skaterlag terwyl die kinders in die vlakwater op binnebande jil van plesier.

’n Rivier kom salf en vertroos, bring weer glimlagte en spoel al die sorge en bekommernisse van die droogte weg.

Die lewe in die ou Kalahari is weer mooi. ’n Siklus van die lewe is volbring.

Meer oor:  Kalahari  |  Kurumanrivier  |  Klimaat  |  Reën  |  Droogte  |  Boere  |  Oorstromings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.