Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Asmapompies, spuitnaalde op SA strande verwyder

Asmapompies en weggooibare spuitnaalde is die mediese items wat verlede jaar die meeste in opruimingsaksies op Suid-Afrika se strande opgetel is.

Dit is volgens die uitslae van die International Coastal Cleanup wat op 15 September gehou is, waaraan 19 563 vrywilligers deelgeneem het. Volgens die opruimingsoudit is 241 425 stukke rommel opgetel.

John Kieser, Plastics SA se volhoubaarheidsbestuurder en koördineerder van die opruimings in die Wes-Kaap, sê baie meer vrywilligers het aan nieamptelike geleenthede deelgeneem, waar kilogramme rommel ook verwyder is.

“Asmapompies is die mediese item wat die meeste in die drie Kaapprovinsies opgetel is en weggooibare spuitnaalde in KwaZulu-Natal, veral in stedelike gebiede.”

Suid-Afrikaners neem jaarliks deel aan die opruim van strande met International Coastal Cleanup Day, waar duisende stukke plastiek verwyder word. Foto: Reuters/Toru Hanai

Volgens Kieser kom die meeste rommel wat op Suid-Afrika se strande opgetel is van stukkies plastiek wat al afgebreek het, polistireenskuim, sigaretstompies, botteldoppe, kosverpakkings, glasstukke en bottels, asook strootjies en stokkielekkers.

“Die hoofoorsaak van rommel op ons strande en in die see is onverantwoordelike gedrag. Rommel wat op die verkeerde plek weggegooi is en ’n tekort aan infrastruktuur vir afvalbestuur is die grootste kwessies wat opgelos moet word.”

Nog ’n bron van kommer is die toename in weggooidoeke wat op strande gestort word, veral rondom informele nedersettings.

Landwyd is 2,5 km tou en 2,8 km vislyn ook op die strande opgetel.

Die veldtog in September om rommel op strande op te tel en aan te teken, word jaarliks wêreldwyd gedoen. Suid-Afrika is al meer as twee dekades lank deel daarvan, sê Kieser.

Luidens Plastics SA se webwerf verteenwoordig hy alle sektore van die land se plastiekbedryf – van vervaardigers, invoerders en verwerkers tot herwinning.

Kieser sê die plastiek- en verpakkingsbedryf is aktief by die opruim van strande betrokke en bewys dat hul kommer oor rommel “nie net ’n bewusmakingsprojek is nie, maar ’n dryfveer om woorde in dade om te sit”.

In die Wes-Kaap het 9 381 mense aan die opruimingsaksie deelgeneem, waarvan 2 476 by aksies wat geoudit is.

In die Oos-Kaap het 6 351 mense deelgeneem, waarvan 1 867 by opruimings was wat geoudit is.

Meer as 2 753 mense het aan opruimings in KwaZulu-Natal deelgeneem wat geoudit is, terwyl dit onbekend is hoeveel vrywilligers by ander opruimingsaksies betrokke was.

In die Noord-Kaap het 1 078 mense aan opruimings deelgeneem, waarvan 790 vrywilligers by aksies was wat geoudit is.

Meer oor:  Strande
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.