Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Augrabies raas uiteindelik weer
Aukoerebis, die plek van groot geraas, brul Vrydagoggend vir die eerste keer sedert 2011 weer hard. Foto: Anena Burger

Aukoerebis, die plek van groot geraas, het Vrydag sy Nama-naam gestand gedoen toe die Augrabieswaterval in die Noord-Kaap teen 820,7 kumek (kubieke meter per sekonde) gebrul het.

Die vloedwater, wat sedert verlede week uit die Bloemhofdam losgelaat is, het Donderdagaand uiteindelik die vlak van die Oranjerivier in die Augrabieswaterval Nasionale Park laat styg.

By Kakamas, wat sowat 30 km voor die park geleë is, het die hoogte van die rivier oornag tot 5,8 m gestyg.

Volgens die departement waterwese het die vlak van die Oranjerivier by Upington oor die laaste 24 uur stabiel by 3,5 m gebly en die rivier vloei hier teen ’n tempo van 977.56 kumek.

By Prieska het die vlak effens van 3,286 m tot 3,166 m gedaal.

Genevieve Maasdorp, Sanparke-woordvoerder, sê die water wat nog van Prieska af op pad is, sal sorg dat die waterval nog ’n paar dae lank skouspelagtig sal wees.

Buiten die hoof-waterval het een van die sy-watervalle, wat as die Bruid se sluier bekend staan, ook Vrydag geloop.

Talle besoekers het reeds vroeg Vrydagoggend in die park opgedaag om die Augrabieswaterval te besoek.

Petra Kotze van Upington het ook haar vier dogters geneem om te gaan kyk.

Haar oudste dogter, Koula, was maar drie jaar oud toe die droogte in die Noord-Kaap begin het en die Augrabies-waterval die laaste keer so skouspelagtig gedreun het.

“Sy kyk in verwondering daarna en het net vanoggend vir my gesê dit lyk soos ’n heel ander wêreld wat sy nie ken nie.”

Kotze se ander drie dogters het nog nooit hul geboortewêreld so groen gesien nie.

“Die Kalahari en die Boesmanland is nou só mooi. ’n Mens vergeet hoe pragtig hierdie wêreld van ons kan wees.”

Intussen is die sluise van die Gariepdam Donderdagaand oopgetrek nadat swaar reën in die Vrystaat geval het en tot ontwrigtende vloede gelei het.

Die dam het binne ’n week met 5% gestyg en is nou 99.9% vol.

Water word teen 708 kumek uit die dam losgelaat terwyl die invloei 1369 kumek is.

Die Vanderkloofdam het ook die afgelope week aansienlik voller geraak. Die dam, wat ’n week gelede 76 % vol was, is nou 86,1 % vol.

Dit het Donderdagaand weer eens wyd oor groot dele van die Noord-Kaap gereën en talle droë rivierlope, wat na die vorige week se reën afgekom het, het weer geloop.

Volgens die Suid-Afrikaanse Weerdiens het 28 mm reën by Upington, 6 mm by Augrabies, en 30 mm by Noupoort uitgesak.

Boere van Kakamas het tot 40 mm gemeet terwyl 20 mm op plase in Keimoes gemeet is.

Op Willem Burger se plaas, Skansboom, naby Sutherland het sowat 10 mm reën Donderdagmiddag in ’n swaar donderstorm uitgesak.

Besoekers aan die Augrabieswaterval Nasionale Park het reeds vroeg Vrydagoggend opgedaag om die waterval te aanskou. Dit was veral sommige kinders van die omgewing, wat in hul leeftyd nog nie die waterval so sien dreun het nie, wat in verwondering was. Mieke Kotze (9) en haar sussies, Pippa (6), Koula (12) en Kemlin (2), en Andre Janse van Rensburg (12) en sy broer, Ruan (14), en hul maat, Rico de Jager (14), almal van Upington, geniet die skouspel. Foto: Anena Burger
Aukoerebis, die plek van groot geraas, brul Vrydagoggend vir die eerste keer sedert 2011 weer hard. Foto: Anena Burger
Aukoerebis, die plek van groot geraas, wys Vrydagoggend vir die eerste keer sedert 2011 waar sy naam vandaan kom. Foto: Anena Burger

Meer oor:  Augrabies  |  Reën
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.