Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Baguira het nou haar eie stukkie veld in Afrika

Dit gaan baie goed met Baguira, die “sirkus”-leeu van Argentinië, wat jare lank in ’n hok aangehou is en in November verlede jaar haar tuiste in Suid-Afrika gevind het.

Baguira het op 25 November ná ’n reistyd van altesaam 65 ure op die O.R. Tambo-lughawe geland.

Baguira floreer in haar nuwe tuiste by die Panthera Africa Big Cat Sanctuary naby Hermanus.

Sy is daarna met ’n vragmotor na haar nuwe tuiste, Panthera Africa Big Cat Sanctuary in Stanford, naby Hermanus, geneem, waar sy uitgeklim, rondgesnuffel en onmiddellik haar kamp begin verken het.

“Dit was ’n emosionele oomblik vir almal toe die leeu, wat tien jaar van haar lewe in klein hokke deurgebring en op sementvloere geslaap het, haar eerste tree uit die hok waarin sy vervoer is, geneem en haar poot op Suid-Afrikaanse gras gesit het,” sê Cathrine Nyquist van Panthera.

Baguira se lyding het reeds begin toe sy in aanhouding in ’n dieretuin in Argentinië gebore is.

Op die ouderdom van ses maande is sy van haar ma geskei en aan ’n sirkus gegee. Sy is eers van die een na die ander sirkus gestuur voordat sy aan die Yobuslavo-sirkus in Argentinië verkoop is.

Sy het agt jaar in ’n hok gebly en het nooit die hok verlaat nie – sy was nie deel van die vertonings nie.

Nyquist sê twee bekommerde burgers het gesien hoe uitgeteer en ondervoed Baguira was.

Dié twee het met die hulp van Jose Yapur, ’n kenner van eksotiese diere, Baguira in 2015 gered en haar na ’n tydelike kamp op ’n visplaas in El Cadillal, Tucuman, geneem.

“Sy is behandel en ontwurm. Sy het slegs 80 kg geweeg en was so uitgehonger dat slegs ’n klein bietjie kos haar laat braak het, maar met goeie sorg en voedsel het Baguira haar kragte opgebou. Haar gesondheid het verbeter en haar gewig het toegeneem tot 160 kg, die normale gewig vir ’n leeu,” sê Nyquist.

Dit het ’n volle 11 maande geneem om Baguira se reis na Suid-Afrika af te handel.

Dit is hoe Baguira gelyk het voordat sy gered is.

Onderhandelings is eers begin om haar na die Rancho Dos Gnomos-reservaat in Brasilië te neem, maar na ’n uitgerekte burokratiese proses is daar vasgestel dié land voldoen nie aan die vereistes om diere in te voer nie.

Hulle het ook vergeefs probeer om haar by die Rocky Mountain-wildbewaringsentrum in Colorado in Amerika te vestig, en uiteindelik het hulle Panthera gekontak.

Baguira het haar reis in Buenos Aires begin waar sy gevlieg het tot by die San Pablo-lughawe in Brasilië en toe na die O.R. Tambo-lughawe in Johannesburg.

Sy het eers ’n paar uur in Johannesburg gebly en nadat ’n veearts haar ondersoek het, is daar verklaar sy is gereed om verder te reis.

“Baie dankie aan almal. Saam het ons ’n wonderwerk laat gebeur,” het Nyquist gesê.

Meer oor:  Hermanus  |  Stanford  |  Natuur  |  Leeu  |  Omgewing
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.