Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Bek-en-klouseer: Verbod op veilings opgehef

Die landwye verbod op die veiling van diere met gesplete hoewe weens die uitbreek van bek-en-klouseer in veral Limpopo, is met streng voorwaardes opgehef.

So het Thoko Didizi, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, Maandagoggend op ’n mediakonferensie by die parlement aangekondig.

Bek-en-klouseer het in November in Limpopo uitgebreek en sedertdien veral die rooivleisbedryf hard geslaan.

Die departement is besig om die presiese finansiële skade wat die siekte aan die bedryf ter waarde van R81 miljard per jaar aangerig het, te bepaal.

Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling Foto: Elizabeth Sejake

Volgens Didiza het die bedryf behalwe Eswatini en Zimbabwe egter nie baie ander internasionale markte verloor nie. Daar is steeds vleis na China en die Midde-Ooste uitgevoer.

Kort nadat die siekte uitgebreek het, is ’n landwye verbod op die veiling van vee ingestel.

“Ek verstaan die impak wat dit op die bedryf, veral afslaers, gehad het. Maar selfs hulle weet dit is gedoen om die rooivleisbedryf in Suid-Afrika te beskerm.”

Volgens Didiza is ’n deeglike ontleding sedertdien gedoen en danksy dit kon sy Maandag amptelik aankondig dat die landwye verbod op veilings opgehef word.

“Ons is oortuig ons kon die siekte onder beheer bring. Maar selfs al lig ons die verbod, geld streng beheermaatreëls steeds om te verseker dat daar nie verdere risiko’s is met vee wat verkoop word nie.”

Van dié maatreëls is dat veilings voortaan net onder streng voorwaardes gehou sal word en net met agente wat by die landbouprodukte-agentskap geregistreer is.


Daar moet verseker word dat diere wat verkoop word nie hoërisikodiere is wat tekens van die siekte toon of van bekende besmette gebiede kom nie.

“Met bek-en-klouseer het ons kliniese tekens wat boere op diere kan sien. Sulke diere moet nie verkoop word nie.

“Dit is ook belangrik dat kopers ’n verklaring van gesondheid van veeartse kry voordat hulle diere koop. Verder moet kopers enige nuut aangekoopte diere op hul eiendom eers in kwarantyn plaas totdat bevestig is dat dit gesonde diere is.”

Volgens Didiza moet alle betrokkenes in die bedryf ook verseker dat hulle voldoen aan die Wet op Dieresiektes wat onder meer lui dat enige eienaar of bestuurder van grond waarop diere aangehou word alle redelik stappe moet doen om die besmetting van die diere met enige siekte of parasiet, en die verspreiding daarvan, te voorkom.

“Dit is ook belangrik om daarop te wys dat diere se gesondheid die verantwoordelikheid van hul eienaars is. Hulle moet daarom na hul diere se gesondheid kyk ter wille van eie gebruik, maar ook vir die hele bedryf en die land se ekonomie.”

Didiza sê een van die kwessies wat die uitbreek van bek-en-klouseer uitgelig het, was die belangrikheid van diere-identifisering.

“Ons moet wetgewing wysig om te verseker dat elke dier in die land geïdentifiseer kan word. Dit is sodat as ’n dier siek is, ons weet van watter plaas dit afkomstig is,” sê Didiza.

Die departement wil ook met bestuurders van die Krugerwildtuin, sowel as ander wildreservate landwyd, in gesprek tree om hul heinings te versterk om te verhoed dat buffels, wat die siekte versprei, in kontak met diere buite die parke kom.

Meer oor:  Thoko Didiza  |  Parlement  |  Bek-En-Klouseer  |  Rooivleisbedryf  |  Verbod
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.