Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Beperkings op jag 'bedreig bewaring'

SA Jagters sê die nuwe beperkings op die jagbedryf hou ’n groot bedreiging vir die bewaring van biodiversiteit in omdat private wildplase ’n enorme bydrae tot bewaring in Suid-Afrika lewer.

Die organisasie sê in ’n mediaverklaring die private wildlewebedryf beskerm verreweg die grootste deel van die land se wildbevolking en veral skaarser spesies.

Suid-Afrika geniet internasionale erkenning vir die manier waarop die wildlewe deur die private grondeienaars bewaar word.

Grondeienaars wat nie kan jag nie, sal gedwing word om hul wildplase te omskep in ander bedrywe om te kan oorleef.

Die nuwe inperkingsregulasies, wat jag oor provinsiale grense heen verbied en ook jagters verbied om te oornag, het wildboere groot skade berokken, dit juis nadat hulle die afgelope tyd gesukkel het om kop bo water te hou.

Belanghebbendes in die jagbedryf was Dinsdag so verstom oor dié regulasies dat talle dit as fopnuus afgemaak het.

Geen redes is verskaf vir die nuwe beperkings nie en geen verduideliking is gegee vir die feit dat die uitdun van wild, wat baie meer mense verg, toelaatbaar is nie.

Wors du Toit van W&W Hunting Safaris buite Theunissen, sê alles het tot stilstand gekom net enkele weke nadat die jagbedryf weer kon funksioneer.

Du Toit sê hy en sy seun, Wian, se jagkamp was vol bespreek tot einde September en groepe van agt tot tien mense sou elke naweek die jagplaas besoek het.

Ons het die vorige naweek jagters van Potchefstroom en Pretoria gehad wat R55 000 bestee het

In die week kry hulle ook heelwat besprekings van enkelinge.

“Ons het die vorige naweek jagters van Potchefstroom en Pretoria gehad wat R55 000 bestee het,” sê Du Toit.

Die meeste groepe bestee tussen R35 000 tot R45 000 oor ’n naweek.

Hy sê Vrydag sou ’n groep pa’s en seuns uit Bloemfontein die jagplaas besoek het, maar omdat hulle nie mag oorslaap nie, het hulle die bespreking gekanselleer.

Du Toit sê die wildkarkasse moet eers afkoel en jagters kan doodeenvoudig nie in een dag jag en terugkeer huis toe nie.

“Die vleis sal vrot word as dit nie behoorlik afgekoel is nie.”

“Dit is nie net ons wat seerkry nie, ons gee al die harslag en bene vir mense in die gemeenskap. Mense staan tou daarvoor en ’n vrou kook sop en pasteie vir bejaardes,” sê hy.

Die Du Toits het ook R154 000 gebruik om blouwildebeeste en springbokke aan te koop vir die bespreekte jagte wat nou deur die mat geval het.

Hy sê mense wat deposito’s betaal het, het gesê hulle wil nie die geld terug hê nie en sal kom jag sodra die beperkings opgehef is.

Meer oor:  Jagters  |  Jagbedryf  |  Koronavirus  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.