Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Beseerde geelkuif-pikkewyn het nou ’n naam en tuiste

Die jong geelkuifpikkewyn wat einde Junie op Kaapstad se internasionale lughawe aangekom het, is ’n wyfie en haar naam is EL.

Renée Leeuwner, woordvoerder van die Twee Oseane-akwarium, het in ’n verklaring gesê hulle kon nou die geslag van die pikkewyn bepaal.

Sy het ook haar naam gekry nadat die akwarium op sosiale media voorstelle van die publiek gevra het.

Heelparty noordelike geelkuifpikkewyne kan in die Twee Oseane-akwarium in Kaapstad gesien word. Foto: Twee Oseane-akwarium

EL staan vir East London, van waar sy afkomstig is.

Sy het op 28 Junie in Kaapstad aangekom en is deur die Suider-Afrikaanse Stigting vir die Beskerming van Kusvoëls (Sankub) ’n maand in kwarantyn gehou.

Lede van die publiek het EL op die strand in Oos-Londen gevind nadat sy uitgespoel het. Sy is in die Oos-Londen-akwarium gerehabiliteer en toe na Kaapstad gestuur.

Sy is nou deel van die pikkewynkolonie in die Twee Oseane-akwarium.

EL was ’n maand lank in die intensiewe sorgeenheid van Sankub, omdat sy ’n infeksie in haar bene en albei haar pote gehad het. Luidens die verklaring is sy egter nou heeltemal gesond.

“Sankub en die Twee Oseane-akwarium het ’n goeie werkverhouding. Hul hulp is onontbeerlik vir die versorging van nuwe voëls wat by die akwarium aangebring word,” het Shanet Rutgers, een van die lede wat met die pikkewyne in die akwarium werk, gesê.

Rutgers het gesê omdat hierdie noordelike geelkuifpikkewyn se natuurlike habitat duisende kilometers van Suid-Afrika af is, is dit hoogs onwaarskynlik dat sy die hele pad geswem het. Sy is nog baie jonk en het van haar “babaveertjies” gehad en nie ’n volwasse pels wat haar teen die koue sou beskerm nie.

“Wat meer waarskynlik is, is dat vissermanne haar gevang en aan boord gehou het en toe nader aan Suid-Afrika in die see teruggegooi het om boetes van owerhede te voorkom” het Rutgers gesê.

Volgens haar is dit moeilik om te bewys, maar in ’n vorige geval is die pikkewyn Teddy, wie se pote met ’n draad vasgebind was, gered.

“Ons kan bespiegel dat EL se voete ook so vasgebind was omdat sy ’n infeksie gehad het, maar daar is geen manier om vir seker te weet nie.”

Die naaste geelkuifpikkewynkolonie is meer as 2 500 km van Suid-Afrika af op Tristan da Cunha- en Gough-eiland. Dit is waarom EL nie met haar kolonie herenig kan word nie. Niemand weet presies van watter kolonie sy afkomstig is nie en ’n pikkewyn kan nie net in enige kolonie geplaas word nie.

Daar bestaan die risiko dat jy die genepoel besmet en patogene, wat nie daar gevind word nie, kan versprei.

Rutgers het gesê daarom sal EL in die Twee Oseane-akwarium gehuisves word, waar vir haar tussen die ander pikkewyne gesorg kan word.

Meer oor:  Twee Oseane-Akwarium  |  East London  |  Bewaring  |  Beseer  |  Omgewing
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.