Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
SA dien voorstel in by cites
‘Beskerm die ietermagog’
As status verander, is jag onwettig
’n Ietermagog in die Kalahari.

Die departement van omgewingsake het ’n voorstel by die sekretariaat van die konvensie oor die internasionale handel in bedreigde spesies (Cites) ingehandig dat die ietermagog die hoogste beskikbare beskerming geniet omdat dié soogdiertjie weens stropery aan die uitsterf is.

Luidens die voorstel moet die status van die ietermagog van bedreig tot krities bedreig opgeskuif word. Dié miervretende diertjie is nou op Aanhangsel 2 van Cites, maar Suid-Afrika vra dat hy na Aanhangsel 1 opgeskuif word.

Die diere word veral gestroop vir hul skubbe, wat ’n lekkerny in Asië is. Hul skubbe word ook as bestanddeel in tradisionele medisyne en in leerprodukte gebruik.

Luidens die voorstel, wat in September by COP17 in Johannesburg oorweeg sal word, is daar ’n merkbare afname in die aantal ietermagogs in Suid-Afrika en groot dele van Afrika.

Dit is toe te skryf aan habitatvernietiging en stropery, en buitendien teel die dier baie stadig aan. Hulle teel baie selde in aanhouding.

Die geweldige toename in die menslike bevolking in Afrika en die aantal mense wat van bosvleis leef, dra ook by tot die afname in die diere se getalle.

Baie van die diere word doodgeskok omdat plase en reservate met elektriese heinings toegespan word.

Die diertjies is ’n maklike teiken omdat hulle nie vinnig beweeg nie. Statistieke wys in die afgelope dekade is meer as ’n miljoen ietermagogs in Afrika en Asië gestroop.

Die statistieke word hoofsaaklik gegrond op die aantal diere wat teruggekry word wanneer sindikate en individuele stropers in hegtenis geneem word.

As Cites daartoe instem dat die ietermagog na Aanhangsel 1 opgeskuif word, sal dit beteken dat hy nie gejag mag word nie.

Geen handel in die diere sal toegelaat word nie.

Die prys van ietermagogskubbe het sedert 2008 van $300 (sowat R4 300) tot $600 (R8 600) per kilogram opgeskiet. Die verdubbeling in die prys word toegeskryf aan die feit dat die ietermagog al hoe skaarser raak.

Deursoekingsoperasies het gewys ietermagogskubbe word dikwels saam met ivoor in dieselfde houer uit Afrika na die Ooste gesmokkel.

Die meeste van die diere se skubbe word in die Ooste gekonfiskeer, maar in Januarie verlede jaar is 2 029 kg in Amsterdam teruggevind in ’n houer wat valslik as telekommunikasietoerusting gemerk was.

Ingevolge wet kan iemand wat in Suid-Afrika met ’n ietermagog in sy besit betrap word, met tot R10 miljoen beboet word.

Paul Gildenhuys, bestuurder van wetstoepassing van biodiversiteit by CapeNature, het vroeër gesê mense kom Suid-Afrika as toeriste binne en stroop geitjies, plante, kewers, paddas, slange en skilpaaie.

Die meeste van dié mense is versamelaars. Die ietermagog is een van die mees gestroopte diere in die land.

Angola, Botswana, Tsjad, die Ivoorkus, Gaboen, Guinee, Kenia, Liberië, Nigerië en Senegal het soortgelyke versoeke ingehandig. Uitwissing staar vier spesies ietermagogs wat in Afrika voorkom in die gesig.

Temminck se ietermagog (Manis temminckii) is die spesie wat in Suid-Afrika voorkom.

Ietermagogs is besig om weens geweldige stropery uit te sterf. Foto: darren pietersen, afrika- ietermagog-werkgroep
In ’n balletjie opgerol

Ietermagogs kom voor in tropiese en subtropiese gebiede, maar ook in graslande en in die Bosveld.

Hulle is alleenlopers en nagdiere. 

Hulle vreet miere en termiete. 

Hulle is baie uitsoekerig oor hul kos. Dit is waarom dit baie moeilik is om hulle in aanhouding lewend te hou en te laat aanteel. 

Hulle kan tot 200 000 miere in een “maaltyd” vreet. 

Wanneer hulle bedreig voel, rol hulle hulself in ’n bal op. Vir hul natuurlike vyande is hul skerp skubbe ’n afskrikmiddel, maar nie vir die mens nie omdat hulle mak- lik opgetel en weggedra kan word.

Hul draagtyd is sowat 150 dae.

Na raming word hulle sowat 20 jaar oud.

Hulle word as oerdiere beskou.



MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.