Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Besoedeling: ‘Vaal-gebied sal jaar lank militêre sone wees’

Lede van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) sal op Sondag 18 November in die Vaaldriehoek by die Vaalrivier ontplooi word om die besoedelingskrisis om te draai.

Genl.maj. T.T. Xundu, hoofdirekteur van koöperatiewe diens-te, het gister op ’n vergadering van die Golden Triangle Chamber of Commerce gesê die SANW het R200 miljoen van die nasionale tesourie daarvoor ontvang.

Hulle soek antwoorde, het die groep Save the Vaal Environment (Save) laat hoor oor die erge besoedeling in die Vaalrivier.

Weermaglede sal onder meer sleutelpunte bewaak en ’n koördinerende rol speel wanneer die 46 pompstasies herstel word.

Lede van die reserwemag wat groot tegniese kundigheid het, sal saam met amptenare van die departement van water en sanitasie die pompstasies herstel. Onder dié mense is ingenieurs. “Ons voorsien dat ons sowat ’n jaar besig sal wees,” sê Xundu.

“ ’n Ramp wat sulke afmetings aanneem, bedreig nasionale veiligheid. Dit ontwrig die ekonomie en bedreig politieke stabiliteit,” sê hy.

Volgens Xundu sal die vloot en die lugmag ook betrokke wees. Die gebied gaan in ’n militêre sone omskep word.

Die situasie wat hom hier afspeel, is “ongelooflik en buitengewoon”, sê hy. Kort voordat die weermag se afvaardiging sakelui en ander belanghebbendes by Stonehaven on Vaal buite Vanderbijlpark toegespreek het, het hulle Oupa Nkoane, munisipale bestuurder, ontmoet.

“Ons het verneem amptenare wat toerusting na gebreekte pompstasies bring om dit te herstel, vrees dikwels vir hul lewe. Hulle word soms op pad na gebreekte pompstasies gekaap en hul toerusting word gesteel. Hier sal die weermag ook ’n baie spesifieke rol speel om mense en toerusting te bewaak”.

Hy sê die polisie sal ook betrek moet word by die operasie omdat die weermag nie strafregtelike vervolgings sal kan instel wanneer toerusting, veral koperkabels, gesteel en geroof word nie.

Volgens hom het Tito Mboweni, minister van finansies, voor sy mediumtermynbegrotingsrede met genl.maj. Roy Andersen, hoof van die reserwemag, gepraat oor die Vaalrivier-ramp.

Xundu sê die weermag het twee weke gelede sy opdrag gekry. “Ons het reeds planne opgetrek en sal met alle belanghebbendes koördineer oor die pad vorentoe.”

Hy sê dit is ’n saak van nasionale belang.

’n Koördineringskomitee sal binnekort aangewys word en lede van die SANW se afdeling vir kommunikasie sal deurlopend met inwoners praat en beraadslaag, beloof hy.

Plaaslike mense sal ook opgelei word in die herstel en instandhouding van rioolpompe.

Sodra die infrastruktuur herstel is, sal die weermag onttrek.

Verskeie mense wat die vergadering bygewoon het, het hul kommer uitgespreek daaroor en sê hulle vrees dat die situasie hom sal herhaal wanneer die weermag onttrek.

Xundu sê daarop die weermag sal alle pompstasies omhein om diefstal en plundering te voorkom.

Theo Venter, politieke ontleder aan die Noordwes-Universiteit wat ook die vergadering bygewoon het, sê dit is die eerste keer dat die weermag ingryp in ’n situasie waarby water en sanitasie betrokke is en infrastruktuur in duie gestort het.

Hy sê hierdie ingryping by ’n plaaslike owerheid – al is dit in die suide van Gauteng – vertel “ ’n baie groter storie” van munisipaliteite wat nie hul verantwoordelikhede nakom nie.

Diensleweringskrisisse het nou deel geword van die ekonomiese bedreigings vir Suid-Afrika en kredietgraderingsagentskappe hou hierdie situasie ook dop, sê hy.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.