Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
‘Beste vroeë reënseisoen in halfeeu’ vir VS-distrikte
Heinrich Botha, ’n boer van die plaas Mc Grathspark buite Bultfontein, met Danielle (3) en klein David. Foto: Mlungisi Louw

Landboutoestande in groot dele van die binneland het dramaties verbeter ná die beste vroeë reënseisoen in bykans ’n halfeeu.

Die uitsonderlike reënseisoen volg op ’n langdurige droogte van vyf tot sewe jaar vir boere in groot dele van die land.

Rekordoeste en goeie pryse ná die reën is ’n bonus vir boere wat vasgebyt het in die droogte.

Jaco Viljoen, ’n mielie- en veeboer van die plaas Doringkraal by Bothaville in die Vrystaat, sê die reën in die huidige seisoen, wat reeds meer as 400 mm sedert November verlede jaar hier opgelewer het, is bonormaal.

Vorige jare sal boere hier gemiddeld 50 mm reën in Oktober meet, 100 mm in November en 100 mm in Desember, sê hy.

“Ons meet ’n reënseisoen aan hoe naby dit aan 23 November, die optimale plantdatum, begin. Die vorige vier jaar het ons elke keer eers vanaf 16 tot 30 Desember die eerste keer reën gekry.”

Dit het egter op 2 November begin reën, wat beteken dat die boere heelwat voor is met die aanplantings, sê Viljoen, wat ook met soja, sonneblom en grondboontjies boer.

“Die grondprofiel was vorige jare redelik droog, en dit het mooi opgetel.

“Hierdie tyd van die jaar kry ons normaalweg daai midsomerdroogte, maar dit lyk nie of ons dit gaan kry nie.”

Heinrich Botha is dankbaar vir een van die beste vroeë reënseisoene in bykans ’n halfeeu. Foto: Mlungisi Louw
Vanweë die goeie reën is die lande geil en die grondprofiel belowend. Foto: Mlungisi Louw
Heinrich Botha Foto: Mlungisi Louw

Die pryse vir mielies, sonneblom en soja is die beste wat die boere in jare kon vasmaak.

“Dit is 25% hoër as laasjaar s’n. Vanweë die La Niña-jaar, wat gunstig is vir ons, maar ongunstig vir Suid-Amerika, lyk dit of ons ’n goeie gemiddelde oes in Junie, Julie gaan lewer met ’n bogemiddelde prys.”

Luan van der Walt, landbou-ekonoom van Graan SA, sê wat produksie-omstandighede betref, het die jaar goed begin.

Die finale oppervlaktes van die aanplantings word eers op 28 Januarie bekend gemaak.

Hy sê die vloedskade in die Bultfontein-, Hoopstad- en die Wesselsbron-distrik is ’n wesenlike probleem en nog onmoontlik om te bepaal.

Heinrich Botha van die plaas Mc Grathspark buite Bultfontein sê volgens die ouer boere in die distrik is dit die natste in 48 jaar. Hier het hulle al 427 mm reën gehad.

“Ons besef eers nou hoe droog dit eintlik hier was.”

Baba David verkyk hom aan al die groen op die plaas Mc Grathspark buite Bultfontein. Foto: Mlungisi Louw
’n Gebied naby Hoopstad waar erge oorstromings weens die reën verlede week voorgekom het. Foto: Mlungisi Louw
Daar staan steeds water in landerye in groot dele van die Wes-Vrystaat. Foto: Mlungisi Louw
’n Gebied word steeds aangedui as ’n gevaarsone nadat milde reën die afgelope ruk in die Bultfontein-, Hoopstad- en Wesselsbron-gebied voorgekom het. Foto: Mlungisi Louw

Daar is boere wat so erge vloedskade gekry het, dat 50% van hul boerdery onder water is.

Botha het teen 1 Desember verlede jaar klaar geplant en staan nou heuphoogte in die landerye.

“Ek het gister besluit ek wil nóg sonneblomme plant.”

Op kort termyn het Covid-19 hulle baie gehelp met die markte, glo hy.

“Maar as ons in die volgende twee maande weer ’n klomp reën gaan kry, gaan ons ook maar moeilikheid hê. Hier is ’n ou oom wat altyd gesê het ons het meer skade weens te veel reën as van te min.”

Michael Nethavani van die Bloemfonteinse weerkantoor sê goeie reënval word tot Vrydag voorspel.

Op die duur lyk die kanse ook goed vir reën tot einde Maart, wanneer die reënseisoen tot ’n einde kom.

Meer oor:  Jaco Viljoen  |  Reënseisoen  |  Reën
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.