Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Betogings kelder beraad

Die onmiddellike toekoms van die Verenigde Nasies (VN) se Klimaatberaad (Cop25), wat vroeg in Desember in Santiago, Chili, gehou sou word, is nou in die weegskaal nadat die beleërde pres. Sebastián Piñera van Chili Woensdagmiddag (Suid-Afrikaanse tyd) aangekondig het dié land kan weens burgerlike onrus nie meer die gasheer daarvoor wees nie.

Die beraad sou van 2 tot 13 Desember in Santiago, Chili se hoofstad, aangebied word.

Patricia Espinosa, uitvoerende sekretaris van die VN se klimaatkonvensie, het kort ná dié aankondiging gesê sy is ingelig oor die “moeilike situasie wat Chili deurgaan”. “Ons soek nou ’n alternatiewe gasheer (vir die beraad)”.

Al Jazeera het gister berig Piñera­ sê in sy aankondiging “dit maak diep seer”, maar Chili sal nie Cop25 of die Asië-Pasifiese (Apec-) beraad kan aanbied nie. Die Apec-beraad sou op 16 en 17 November in Santiago gehou word.

Dit kom ná twee weke van gewelddadige betogings oor ongelykhede, stygende lewenskoste en skuld in Chili.

Volgens Al Jazeera is die huidige oproer in Chili die ergste­ sedert 1990, toe die dik­tator Augusto Pinochet se bewind beëindig is.

19 mense is tot dusver in botsings met die polisie en weermag dood en duisende is in hegtenis geneem. Die betogers eis dat Piñera­ bedank.

Treine het ook in Santiago tot stilstand gekom toe betogers ondergrondse treinstasies aan die brand gesteek het.

AP berig ’n VN-amptenaar wat anoniem wil bly, sê Espinosa en haar span ondersoek nou die moontlikheid dat Cop25 in New York, Genève, Bonn, Wene of Nairobi aangebied word.

’n Afvaardiging van die VN het vroeër vandeesweek in Chili aangekom om die situasie te bekyk en ook om ondersoek in te stel na moontlike menseregteskendings.

Die Santiago-beraad was veronderstel om sekere haakplekke in ooreenkomste uit te stryk in die lig daarvan dat hoewel lande beloftes gemaak het oor die inperking van koolstofdioksieduitlaatgasse, navorsing nou daarop dui dat die aarde op pad is na ’n temperatuurstyging van 3 °C.

Greta Thunberg, klimaataktivis, het getwiet sy is tans op pad na Chili en reis deur Noord-Amerika, maar sal nou “eers wag”. “My gedagtes is by die mense van Chili.”

May Boeve, 350.org se uitvoerende direkteur, het gister in ’n verklaring gesê die beraad in Chili is gekanselleer weens kwessies wat aan die kern van die klimaatnood lê: maatskaplike ongelykheid, die minagting van menseregte en ’n ekonomie wat die belange van groot ondernemings en besoedelaars eerste plaas.

“Ons kan nie die maatskaplike krisis oplos sonder om die klimaat­krisis te stuit nie.”

Sy sê enige pogings om die klimaatkatastrofe te probeer omdraai sonder om ongelykhede en menseregteskendings aan te pak, gaan misluk.

“Cop25 gaan nie meer in Chili plaasvind nie, maar ons aandag sal steeds dáár wees, waar ons maatskaplike gelykheid eis.

“Ons staan saam met die mense van Chili. Ons ondersteun ook die klimaatbeweging in Chili en in Latyns-Amerika. Hierdie mense gaan voort om die alternatiewe klimaatberaad, oftewel die menseberaad, in die eerste week van Desember te hou.”

Sy wys daarop dat daar mense in Chili is wat hul lewe opoffer vir klimaatgeregtigheid.

“Die klimaatgesprekke moet nou vorentoe beweeg en ’n nuwe fokus plaas op oorlegpleging met mense en menseregte. Ons het ’n menseklimaatberaad nodig.

“Vir te lank het beraadgangers eerder na korporatiewe besoedelaars geluister.

“Die VN moet nou die fossielbrandstofbedryf, wat vir klimaatsverandering verantwoordelik is, uit die klimaatgesprekke skop en meer plek maak vir die stemme van gewone mense.

“Nét dan kan ons begin om werklike oplossings vir die klimaatnoodtoestand en die krisisse van ongelykheid en onregverdigheid te kry.”

  • Dit is die tweede VN-omgewingsberaad waarvan die beplanning vanjaar weens burgerlike onrus ontwrig is. Die konvensie oor die internasionale handel in bedreigde spesies (Cites­) moes inderhaas vanjaar ook sy beraad in Sri Lanka kanselleer en na Genève in Switserland verskuif.
Meer oor:  Verenigde Nasies (Vn)  |  Santiago  |  Klimaatsverandering  |  Omgewing  |  Wêreld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.